Gedagte vir die dag: Gehoorsaamheid is die bewys

vrou_bybel_bid_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Wie egter sy woord gehoorsaam, in só ’n persoon se lewe het die liefde vir God regtig sy doel bereik. Daardeur weet ons ook dat ons baie nou aan Hom verbind is. (1 Johannes 2:5)     

Ons weet ons is in Hom as ons Hom gehoorsaam. Johannes se woorde in 1 Johannes 4:7 lui: “Geliefdes, laat  ons mekaar aanhou liefhê, want volmaakte liefde is van God afkomstig. Elkeen wat só liefhet, is uit God gebore en ken God persoonlik.” Liefde is ’n bewys van gehoorsaamheid. Die opdrag van God is om lief te hê.

Hoe weet ons iemand ken God? Praat hy in tale? Preek hy? Bid hy vir mense? Die Skrif sê ons weet iemand ken God as hy liefhet. Hoekom is dit die kenmerk? Eerstens omdat dit die karakter van God is en tweedens omdat dit die vrug van gehoorsaamheid aan God is. Ons weet iemand ken God as Hy aan God gehoorsaam is. Daar is nie ’n ander definisie van aanbidding, dissipelskap, geestelikheid of diens aan God nie. Daar is geen ruimte vir vleeslikheid of onreinheid nie.

Die ambisie van die dissipel is nie om suksesvol te wees of “bo uit te kom” nie. Die dissipel se ambisie is om in alles gehoorsaam te wees. As dit tot sukses in hierdie lewe lei, is dit goed, maar as dit tot verwoesting in hierdie lewe lei, is dit ook goed. Kan gehoorsaamheid aan God tot verwoesting in hierdie lewe lei? Beslis! Vra die nagenoeg 100 miljoen Christene wat tans vrees vir hulle lewe as gevolg van hul geloof in Jesus Christus. Niks maak ’n dissipel meer opgewonde as die kennis van God deur gehoorsaamheid nie.

Vader, help my om ontslae te raak van alles wat nie met U saam stem nie!

Bron: Wees oor niks besorg nie deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.