Gedagte vir die dag: Gehoorsaamheid is moontlik

 druiwe-stok-wingerd-stiltetyd.jp

Foto: pixabay.com

Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. (Johannes 15:5)

Daar is nie ’n manier hoe ons die lewe van God kan lewe buite Christus nie. Christus is nie net vir ons gegee sodat ons eendag kan hemel toe gaan nie. Christus het ons verlos van ongehoorsaamheid en die gevolge daarvan. Hy is gegee sodat ons, deur geloof in Hom, aan God gehoorsaam kan wees, ’n verhouding met God kan hê en die ewige lewe kan ingaan.

Die evangelie is nie soos ’n transaksie om ’n tweedehandse motor te koop nie. Jy verkoop ’n motor met verskuilde gebreke aan iemand, sonder om om te gee vir die kat in die sak wat die koper gekry het. Al wat vir jou belangrik is, is om die geld te kry. Dit voel vir my of mense God soms op hierdie manier behandel. Hulle word weergebore en dan is  die “transaksie  beklink”. Nou kan hulle maar doen net wat hulle wil – hulle is mos gered. Dit is een van die gevaarlikste leuens wat bestaan! Om in Jesus te bly, is baie meer as ’n datum van weergeboorte êrens in die verlede. Dit was hoe ons in Jesus begin het, maar begin is nie bly nie. Bly is bly. Bly is ’n daaglikse saak. Bly is ’n proses. Bly moet aanhou tot die einde toe. Weergeboorte is nie jou lisensie om ongehoorsaam te wees sonder gevolge nie. Paulus skryf: “Wees baie versigtig hoe julle lewe … ” (Ef 5:15-17).

Vader, die grootse doel in my lewe is om in u Seun te bly! Bewaar my van selfmisleiding.

Bron: Wees oor niks besorg nie deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.