Gedagte vir die dag: Gehoorsaamheid is voortdurend

wynplaas_druiwe_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Julle moet aan My verbonde bly soos Ek aan julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as dit nie aan die druiwestok verbind bly nie, en só julle ook nie as julle nie aan My verbonde bly nie. (Johannes 15:4)

Is dit moontlik om in die wingerdstok te wees en nie in Hom te bly nie? Is dit moontlik dat ’n mens in die wingerdstok ingeënt word en dan weer verwyder word? In sy bespreking oor Israel skryf Paulus: “Hulle is as gevolg van hulle ongeloof uitgekap terwyl jy nou daar is omdat jy glo. Moenie dink jy is wonderlik nie, maar wees liewer baie klein voor God. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, kan Hy jou dalk ook nie spaar nie” (Rom 11:20-21).

Ons hou nie van hierdie gedagte nie. Ons hou eerder van die gedagte wat sê: “Eenmaal gered, altyd gered. As ons eers ingeënt is, is ons veilig, maak nie saak wat nie.” Daar is geen gronde daarvoor in die Bybel nie. Maar wat van: “Ek sal ook die ewige lewe aan hulle gee, en hulle sal so nimmer as te nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand steel nie” (Joh 10:28)? Dis waar, niemand kan jou uit God se hand ruk nie, maar jy kan sy hand los. In Christus Jesus sal jy nooit verlore gaan nie, maar jy kan van Hom weggaan. Jesus  waarsku sy dissipels: “Bly in My.” Dit is nie sonder rede nie. “Julle kan nie gehoorsaam wees as julle nie in My bly nie.” Kan ons wegdraai van Christus? Bly getrou tot die einde toe is nie net woorde nie. Dis ’n werklikheid.

Vader, help my om nougeset te lewe.

Bron: Wees oor niks besorg nie deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JouPa ·

Dis goed om meer sulke booskappe te sien in die media. gewoonlik wil mense net hoor wat God vir hulle kan doen. Maar ons moet aan God gehoorsaam wees en Sy wil doen. Nie om gered te word nie, maar juis omdat ons gered is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.