Gedagte vir die dag: Gehoorsaamheid vermeerder

aanbid_stiltetyd_pixabay.jpg

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Dit is juis hierin dat my Vader verheerlik word, dat julle baie vrugte oplewer en my dissipels is. (Johannes 15:8)

Hier sien ons ’n kosbare definisie van wat dit beteken om ’n dissipel van Jesus te wees. Om God te verheerlik, is baie meer as om op ’n Sondag in die erediens te staan en sing: “We glorify you, Lord.” Die lied beteken absoluut niks as dit nie in ons lewe sigbaar is nie. Jesus verduidelik dat God verheerlik word deur gehoorsaamheid. ’n Volgeling van Jesus (dissipel) word gekenmerk deur gehoorsaamheid aan Jesus. Dit verstom my dat mense dink hulle is “deel van Jesus” terwyl hulle Hom blatant ignoreer. Weet jy wie is die Seun? Hy is die geliefde Seun van God  –  luister na Hom (Matt 17:5).

Die openbaring van wie Jesus is, is die grootste openbaring in die Bybel. Om hierdie openbaring deur geloof te omhels, is om ons sonder voorwaarde aan die gesag van Jesus  te onderwerp. Hoekom onderwerp ek my aan Jesus? Want ek weet Hy is wie Hy gesê het Hy is. Dít maak my ’n dissipel van Jesus. Kom ons vra mekaar dié belangrike vraag af: Is jý ’n dissipel van Jesus? Die vraag is nie of jy “gered” is nie. Dis ’n begrip wat al te veel vervorm is deur die opinies van mense. Is jy in jou lewe aan die gesag van Jesus onderwerp? Kan mense dit sien in jou grappies, jou verhoudinge, jou seksuele lewe, jou politieke sieninge, jou hantering van finansies? Moenie “saligheid” bo die gesag van Christus plaas nie. Saligheid kom deur onderdanigheid aan sy gesag.

Vader, bevry my van die teologie van mense na die teologie van Christus!

Bron: Wees oor niks besorg nie deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.