Gedagte vir die dag: Gehoorsaamheid vs selfbehoud

stiltetyd maroela

Foto: pixabay.com

Nou is Ek hewig ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: “Vader, red  My uit hierdie uur”? Tog het Ek juis vir hierdie uur gekom. Vader, verheerlik ú Naam! (Johannes 12:27-28)      

Hier is die groot krisis van elke mens: selfbehoud of gehoorsaamheid. Jesus staan voor dieselfde krisis op die vooraand van sy kruisiging. Die begeerte na selfbehoud is só groot!

Wat sal ons maak as ons tussen selfbehoud en gehoorsaamheid moet kies? Is gehoorsaamheid aan God regtig só belangrik? Sal God my ooit in ’n posisie plaas waar ek moet kies tussen selfbehoud en gehoorsaamheid? Die punt is nie eintlik of dit God is wat ’n mens in so ’n posisie plaas en of dit omstandighede is nie. Die punt is dat ek vir seker in daardie posisie sal kom – en dikwels ook. Soms is dit ’n keuse tussen gehoorsaamheid en die behoud van my eer. Soms is dit selfs so drasties soos om te kies tussen gehoorsaamheid en my eie lewe. Hoe dit ook al sy, die situasie is onvermydelik.

Gehoorsaamheid is nie ’n gawe opsie nie – dit is ’n absolute vereiste. Jesus demonstreer die lewe van ’n kind van God. Dis iemand vir wie die wil van God die absolute hoogste strewe is, selfs groter as sy eie lewe. Dis duidelik dat Jesus se naderende dood nie ’n onbelangrike kwessie is nie. Jesus is  diep  ontsteld. Wanneer ons selfbehoud bedreig word, ontlok dit diep ontwrigtende emosies. Is diep ontwrigtende emosies rede genoeg om aan God ongehoorsaam te wees? Onthou dit wanneer iemand jou weer seermaak, misbruik, verag, besteel, ontken of verwerp.

Vader, leer my hoe om ten koste van myself aan U gehoorsaam te wees.

Bron: Wees oor niks besorg nie deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.