Gedagte vir die dag:  Geliefde voorgangers

Namib_woestyn_stiltetyd.jpg

Foto: Susan Lombaard

Lees Romeine 9:1-9

… daar (is) by my  groot droefheid en voortdurende hartseer … oor my broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees. (Romeine 2-4)

Paulus weet maar te goed waar hy vandaan kom – biografies, geografies en teologies gesproke. Hy sou sy afkoms verskeie kere in verskillende van sy geskrifte vermeld. Wanneer hy hier van sy “eie” mense praat, is dit sonder twyfel dié wat, soos hy, van geboorte Israeliete is, egte Hebreërs, Fariseërs in wetsopvatting, onberispelike onderhouers van die wet van Moses (vgl. Fil 3:5-6).

Maar anders as Paulus, wou dié mense niks van Christus weet nie. Hulle het nog niks van genoemde “bates” prysgegee nie en ken nie die vryspraak wat die geloof in Christus bring nie (vgl. Fil 3:7-9). Ai, sug Paulus dan, ek sal enigiets doen om hulle ter wille te wees. Ek sal selfs vervloeking verkies, as ek tog net hul redding kan verseker.

Want kyk na ons gedeelde geskiedenis! roep hy uit. Kyk na Abraham en Sara se storie! Én na Isak en Rebekka s’n, sou hy aanstons byvoeg. En Jakob s’n. Is dit alles dan nie voorbeelde van God se ontferming nie (vgl. Rom 9:10-16)?

Ons weet vandag dat Paulus se hartstogtelike pleidooi grootliks op dowe ore geval het. Dat sy mense wel hul geskiedenis met groter ywer as ooit omarm het, maar alle moontlikhede van ’n nuwe toekoms verwerp het.

Ons weet ook dat God se ontferming oor grense en geslagte heen gereik het – tot by ons. Dat daar ook in ons geskiedenis geliefde voorgangers was wat alles sou prysgee sodat ons tog net nie God se ontferming afwys nie.

Ek dank U, Here, vir hulle wat my klein-klein al gewys het hoe U lyk. Ek eer hul nagedagtenis.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.