Geloof begin by hoor

Mark 5:26: “Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger”.

Hierdie vrou wat aan bloedvloeiing gely het, het alles in haar vermoë gedoen om gesond te word. Die primitiewe behandeling van die geneeshere van haar tyd het erge lyding vir haar meegebring. Dis nogal interessant dat Lukas, wat self ’n dokter was, in sy weergawe van hierdie verhaal nie vermeld dat sy baie gely het onder die behandeling van die dokters nie. Hy het dalk gevoel hy moet sy beroep beskerm!

Nie alleen het hierdie vrou vernedering en lyding ervaar weens die behandelings nie; sy het ook alles wat sy gehad het daaraan bestee. En in plaas daarvan dat haar toestand verbeter het, het dit net erger geword. Wat ’n haglike toestand! Sy het regtig alles verloor: haar gesondheid, haar geld en haar besittings, haar waardigheid, haar plek in die sosiale en godsdienstige lewe (sy was van alles uitgesluit) en waarskynlik ook haar man. Maar toe hoor sy van Jesus (Mark 5:27). Berigte oor Hom het haar sekerlik in die afgelope maande bereik. Berigte wat vertel het hoe Hy deur die land reis en mense wat aan verskillende kwale ly, gesond maak. En elke verhaal het haar geloof versterk.

Dít is immers waar geloof begin: om van Jesus te hoor. Daar is min dinge wat jou geloof meer versterk as om van Jesus te hoor of te lees. Nuus oor Hom is altyd goeie nuus. Toe die nuus haar dus bereik dat Jesus in haar dorp is, het sy besef dat sy hierdie kans nie kan laat verbygaan nie. Dis dalk haar enigste kans. Sy was desperaat.

Dalk is jy ook by so ’n punt. Ek herinner jou graag aan Jesus – dat Hy lewe en dat Hy jou liefhet. Jy is dalk nader aan ’n wonderwerk as wat jy besef!

Gebed: Here, ek glo dat ook ek op die drumpel van ’n wonderwerk staan. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.