Gedagte vir die dag: Geloof beteken om in God se teenwoordigheid te leef

sonsopkoms_rustig_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Josua 1:1–9

Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie … Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan. (Josua 1:5, 9)

Wanneer Josua die leisels by Moses moet oorvat, is God self daar om hom te bemoedig: Hy mag maar sterk en dapper wees, omdat God saam met hom sal wees en Hom nooit in die steek sal laat nie.

Geloof maak dit vir God se kinders moontlik om elke nuwe dag vreesloos en met vertroue in te gaan, omdat hulle seker weet dat God by hulle is. Hulle weet dat hulle in die nuwe dag wat voorlê op sy wysheid en hulp kan staatmaak; oomblik vir oomblik deur gebed met Hom kan kommunikeer, en van die stem van die Heilige Gees bewus kan word en dit gehoorsaam. ‘Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde,’ sê God in die woorde van Psalm 46:11. En dan getuig die psalmdigter self in vers 12: ‘Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting.’

Word ’n rukkie stil en dink aan wat jou geloof vir jóú beteken: God is vandag by jóú, die belofte dat Hy sy kinders nooit sal los nie, is ook aan jou adres gerig. Omdat jy in Hom glo, kan jy elke dag seker wees van sy teenwoordigheid en sy beskerming.

Hemelse Vader, ek loof U dat ek vandag op u teenwoordigheid in my lewe mag reken, dat ek seker mag weet dat U by my is, dat U my sal help en my nooit, ooit in die steek sal laat nie.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Drakensberger ·

Sjoe, wonderlik! Dit is wat elkeen in hierdie land moet hoor! Dit laat mens sommer nuwe moed skep!

Drakensberger ·

Sjoe, wonderlik! Dit laat mens sommer nuwe moed skep! Prys die Naam van ons Here!

Ansa ·

Wonderlike om te weet dat al wat n mens moet doen is om te glo.As mens glo in God dan sal mens se geloof versterk.Om elke dag te kan se Ek glo in God die Vader die almagtige Skepper van die Hemel en die aarde Amen

Leona Verburg ·

God is goed en altyd daar vir ons. Hy sorg en beskerm ons van dag tot dag. Bid asb vir my seun wat 20 en 27 Maart groot eksamen skryf vir wysheid en begrip. Amen in Jesus se naam

Frans ·

Daar was al soveel kere dat ek gevoel het ek staan alleen in die wereld met my probleme en tog is ek steeds hier, ongeskonde. Hoekom? Want God was altyd teenwoordig met Sy groot genade en liefde vir my al het dit nie so gevoel nie. Al wat ons moet doen is om in Hom te glo. Ek loof en prys U my Koning.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.