Lees: Efesiërs 2:13–21
Christus is ons vrede. Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. (Efesiërs 2:14, 17)
Wanneer Jesus sy klompie bang dissipels beloof dat Hy hulle nie alleen sal laat nie, maar die Heilige Gees in sy plek na die wêreld sal stuur om hulle te help, sê Hy ook dat Hy sy vrede vir hulle sal nalaat – om daardie rede hoef hulle nie ontsteld of bang te wees nie. Paulus verpersoonlik vrede wanneer hy aan die gemeente in Efese skryf dat die Persoon van Jesus hulle vrede ís. Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir dié mense wat ver van God was én vir dié wat naby God was. Mense wat in Jesus glo, het reeds sy vrede in hulle hart en lewe.
Vandag het ons vrede nodiger as ooit, omdat ons so baie konflik om ons sien. Jy sal net in vrede kan leef as jy Jesus se vrede in jou lewe het. Gelowiges behoort ook met mekáár in vrede te leef. ‘Sorg dat waar jy gaan, vrede jou soos ’n skaduwee sal volg. Om in vrede met mekaar te leef is reg en mooi voor God.’ Dit is Die Boodskap se weergawe van Jakobus 3:18.
Indien jy dit nog nie gedoen het nie, maak vrede met dié mense wat jou seergemaak het. Geloof dring jou nie net om met God se vrede te leef nie, maar ook om ’n vredemaker te wees; om jou eie konflik en dié van ander op te los met die wysheid wat van God kom.
Here Jesus, U is my vrede. Ek bid dat U vir my die wysheid sal gee om met u vrede in my hart te leefsodat ek ’n vredemaker op aarde kan wees.