Gedagte vir die dag: Geloof gee jou hoop vir die toekoms

 Reenboog_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Jeremia 29:11–18

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting! Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. (Jeremia 29:11–13)

Jeremia 29 is ’n brief aan die leiers van die bannelinge wat deur koning Nebukadnesar uit Jerusalem na Babel toe weggevoer is. By monde van die profeet Jeremia verseker God sy volk dat hulle nie hulle hoop hoef te verloor nie; dat Hy vir hulle voorspoed beplan, dat Hy vir hulle ’n toekoms wil gee waarin hulle Hom sal aanroep en sy wil sal ken, terwyl Hy hulle gebede sal verhoor.

Mense wat in God glo, hoef nie vir ‘eendag’ te wag nie; ons kan vandág al met hoop in ons harte leef omdat ons nou reeds seker mag wees dat God vir ons ’n toekoms waarborg, dat Jesus op die oomblik besig is om ons plek by Hom gereed te maak en dat die hemel op ons wag.

Christene se hoop op God span ’n reënboog oor vandag. Die apostel Jakobus sê dat om te glo beteken dat ons nou reeds seker kan wees van die dinge wat ons hoop (Heb 11:1). Dit is hierdie kwaliteit van hoop wat dit vir jou moontlik maak om jou swaarkry van die oomblik te verdra omdat jy nou reeds op die toekoms kan fokus en kan vashou aan God se beloftes vir jou. God is getrou. Niemand wat op God hoop, is nog ooit teleurgestel nie, beloof die Hebreërskrywer in Hebreërs 10:23.

Here, dit is wonderlik dat ek mag hoop op ’n glorieryke toekoms saam met U. Dankie dat my hoop op U my ook verseker dat U my vandág sal help en vandag vir my sal sorg.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ansa ·

Baie dankie vir die insigewende boodskap .Dit is vandag die groot bid in Bloemfontein vir hierdie land en in die skrif verseker DIe Here vir ons Jer 29:11 Ek weet wat Ek vir jul beplan se Die Here voorspoed en nie teenspoed nie.So ons moet net glo dat dit wel so gaan wees glo en vertrou is ons uitweg .

André ·

Voorwaar GOD is Getrou! ROEP HOM AAN, en Hy Sál Voorsien!
Die Here Seën! ?☝

Stephnie Vorster ·

Dankie waardeer die gedagtes van Stiltetyd-kosbaar vir my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.