Geloof in die toekoms

sparkler-lig-glo-geloof-hoop

Foto: Freestocks.org/Pexels

Deur Mauritz Zietsman van Every Nation Church

Ek sit baie en dink oor môre, oor wat in die toekoms gaan gebeur. Dis tog so menslik.

Jou toekoms mag jou bang maak, of miskien opgewonde, maar een ding is verseker, niemand kan die toekoms beheer nie. Die realiteit is ons lewe in ’n wêreld wat baie vinnig kan verander en baie keer gebeur daar dinge waarvoor ons nie beplan het nie. As jy al ooit skielike verandering moes aandurf, weet jy waarvan ek praat. Miskien het jy iemand naby aan jou verloor of moes jou gesin na ’n ander stad verhuis. Hierdie situasies kan ons met vrae los: Wat gaan met my toekoms gebeur? Is daar nog enige iets waarop ek kan staatmaak en sekerheid oor hê?

In Hebreërs 11:1 staan daar: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Geloof is om sekerheid te hê ten spyte van omstandighede en situasies. Geloof is om die besluit te maak om op te tree met absolute sekerheid te midde van onsekerheid. So, in wie en waarin kan ons glo? Mense is nie perfek nie en ons gaan teleurgesteld wees as ons geloof in mense sit. Omstandighede verander konstant, dus om ons geloof in omstandighede te sit, sal ook nie wys wees nie.

Die enigste iets waarin ons ons geloof kan sit sonder om teleurgesteld te wees, is in God. God is konstant en getrou, Hy is 100% betroubaar. ’n Lewe van geloof is ’n lewe van sekerheid in God en Sy karakter. Met hierdie sekerheid dat God goed is en nooit gaan verander nie, kan ons die lewe aandurf met passie en sonder enige vrees. Jou toekoms hoef jou nie te intimideer nie, want God gaan nooit Sy karakter verander nie.

Hier is wat God oor jou toekoms sê: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!” Jer. 29:11. God sê nie dat jy sekerheid gaan hê omdat jy nie weet wat Sy planne vir jou is nie. Maar hy vra jou om te vertrou in Sy karakter, in wie Hy is, want Sy planne vir jou is goed. Moeilike tye is nie in ons lewens omdat God in ’n slegte bui is of om jou te straf nie. Dit is daar sodat jou geloof in Hom en wie Hy is, kan groei.

Here, dankie dat ek my vertroue in U kan sit. Ek weet U sal nooit verander nie en dankie dat U konstant bly, selfs wanneer my omstandighede verander. Here, help my om in geloof te reageer wanneer ek teleurgesteld voel, wanneer my planne nie uitwerk soos ek gehoop het nie. Here, ek sit my geloof in U, ek weet U is betroubaar. Here herinner my aan al my getuienisse, waar U die onmoontlike kom doen het in my lewe. Here, kom versterk my geloof soos ek elke dag aanpak met die wete dat U besig is om my storie te skryf… mag my storie getuig van U goedheid. Amen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Katrynkie ·

Gister se boodskap wat ek eers vandag kans kry om te lees. Dit is presies waar ek op die oomblik van my lewe is in wat ek gister myself afgevra het…”wat gaan van my toekoms word…gaan ek dit maak?”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.