Gedagte vir die dag: Geloof is alles

mense_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die apostels het vir die Here gesê: “Help ons. Ons het meer geloof nodig.” (Lukas 17:5)

Sonder geloof kan ons God nie behaag nie. Dié wat glo, moet glo dat Hy bestaan en dié beloon wat pligsgetrou na Hom soek.

Soms sê ek vir mense dat God nie gebed beantwoord nie. Dan laat ek my stelling net so in die lug hang en sien hoe hulle baie ongemaklik raak. Ek gaan dan voort en sê vir hulle dat God die gelowige gebed beantwoord. Jy sien, as ons glo, sal ons ontvang (Matteus 21:22). Dit gaan daaroor om te glo – glo dat Jesus Christus die Seun van God is, glo dat Hy ’n wonderwerker is en glo dat Hy gister, vandag en altyd dieselfde is (Hebreërs 13:8).

“Jou geloof het jou genees,” is wat Jesus vir die siek vrou gesê het (Lukas 8:48). Sy het geweet dat as sy net aan die soom van sy kleed kon raak, sy genees sou word (Lukas 8:43-48).

’n Soortgelyke ding het met Bartimeus, die blinde man, gebeur (Markus 10:46-52). Hy was vasbeslote om seker te maak dat Jesus hom hoor wanneer Hy verbyloop. Hy het hard geskree. Almal het vir hom gesê om stil te bly, maar hy het nie geluister nie. Hoekom? Want hy het geweet hierdie prediker wat verbyloop, was sy enigste kans om te kon sien. Uiteindelik het Jesus gaan staan en gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” (vers 51). Toe vra hy Jesus vir sy sig. Hy het dit onmiddellik ontvang en is genees. Jesus het vir hom gesê: “Omdat jy so vas geglo het, het jy gesond geword” (vers 52). Dit gaan oor geloof. Ons moet net glo.

Johannes 3:16 is die bekendste Skrifgedeelte in die Bybel. Dis gewoonlik die eerste vers wat elke nuwe gelowige memoriseer: “God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Dit is die volle evangelie in ’n neutedop. As jy daardie vers kan glo, sal jy gered word. Kom ons vra God om ons geloof te vermeerder, net soos die dissipels Hom gevra het in Lukas 17:5.

Liewe Here Jesus, U is die enigste persoon wat ek volkome kan vertrou in die lewe. Vermeerder asseblief my geloof, want U sal my nooit in die steek laat nie. Dankie dat U u lewe gegee het om myne te red. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan Seerot ·

Seun van Dawid, Seun van God, Redder en Bemiddelaar, ek glo. Help my in my ongeloof. Hoor my gebed. Asseblief. Net U, kan hier help. Help ons. Aan U al die glorie. Heerser van die heelal. Amen.

Maria ·

Dit IS verseker solank wat Here leef.. AMEN!
Matt 15:28 (1987-11-15)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.