Gedagte vir die dag: Geloof is deur die gehoor

voetpad-brug-pixabay-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. Toe het Abram weggetrek soos die Here hom gesê het. (Genesis 12:1-2, 4)

Staan ’n oomblik stil en dink hoe dit vir Abraham moes gevoel het. Stel jou voor daar word vir jou gesê om jou goed te pak en die plaas wat al vir soveel geslagte in jou familie is, te verlaat. God se bevel aan Abraham het egter gepaardgegaan met ’n belofte. God het vir Abraham gesê dat hy Hom moes gehoorsaam en Hy sou hom seën. Gehoorsaamheid was eerste, en die seën het daarop gevolg.

Dieselfde geld vir ons. God wil ons seën, maar ons moet eers bereid wees om Hom te vertrou en te gehoorsaam. Jy kan nie die seën ontvang sonder geloof en gehoorsaamheid nie. Hulle sê dat die tweede mees traumatiese ervaring is wanneer jy verhuis. Meestal weet ’n mens waarheen jy trek. Abraham het nie eens geweet waarheen hy op pad was nie. Abraham is nie ’n vriend van God genoem omdat hy ’n goeie man was nie; nee, dit was omdat hy ’n gehoorsame man was; hy was ’n man van groot geloof. Die Woord sê vir ons: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Romeine 10:17). Ons weet dit tog? Dit is deel van ons probleem, ons is te blasé en selfvoldaan. Maar Jakobus 1:22 sê vir ons: “Word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.” Dit is ’n baie belangrike waarskuwing.

Die Woord van God is Jesus in gedrukte vorm. Hoe beter jy Jesus leer ken, hoe meer sal jy groei in geloof. Hoekom? Die wortel van geloof is die kennis van ’n Persoon – Jesus Christus. Hoe meer tyd jy saam met jou huweliksmaat deurbring, hoe beter leer jy hom of haar ken. As jy dus nooit die Bybel lees nie, sal jy nie geloof hê nie. Die Woord van God vertel ons van Jesus: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense” (Johannes 1:1-4).

My Vader, ek weet dat U nie belangstel in lippetaal nie. Ek wil U gehoorsaam en vertrou. Ek besef ook dat ek dit nie kan doen sonder om U te leer ken nie. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Samuel ·

Dankie vir hierdie plasing. Dit is ‘n groot waarheid dat hoe meer ons Bybel lees, hoe meer verstaan ons God die Vader en Sy seun.

OW ·

Heeltemal reg Samuel.Die drie deugde in ons geloofslewe,glo,vertrou en gehoorsaamheid aan Hom,is krities in ons verhouding met God.As dit nie deel is van ons lewe nie,is ons verlore.

Watsenaam ·

Sjoe dis waar want dit is God se woord.
Maar… wat van die wat nie kan hoor nie, die wat fisies doof is sonder enige gehoor . Is hulle uitgesluit of hoe werk dit?
Of, is die lees van die Gods woord, dowes se hoor?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.