Gedagte vir die dag: Geloof is die beste medisyne teen bekommernis

man_sonsopkoms_dink_denker_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Matteus 6:25–34

Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie … Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? … Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. (Matteus 6:25, 27, 32)

Jesus het goed geweet dat die meeste mense onder bekommernis gebuk gaan. In sy Bergpreek verseker Hy die mense wat na Hom kom luister het dat hulle hulle nie hoef te bekommer oor hulle lewe, kos of klere nie. Bekommernis sal hulle immers niks help nie. Gelowiges het die versekering dat God vir hulle sal sorg soos Hy vir die gras en die blomme van die veld en vir die wilde diere sorg. Hy weet immers van elke ding wat ons nodig het.

Die sielkundiges waarsku dat bekommernis ’n gewoonte kan word. Besluit dus sommer nou om op te hou daarmee. Gelowiges hoef hulle nie oor die dag van môre te bekommer nie. Jy kan gerus maar ’n lysie maak van al jou bekommernisse en ’n streep deur elkeen trek. As jy jouself weer betrap dat jy bekommerd is, praat met God daaroor. Gooi jou bekommernisse na God se kant toe, skryf Paulus aan die gemeente in Filippi – Hy sál vir jou sorg. (Fil 4:6). Eintlik is dit onmoontlik vir geloof en bekommernis om saam in een ruimte te bestaan – as jy steeds ’n kommerkous bly, gaan bely jou sonde en volg Martin Luther se raad: ‘Pray, and let God worry!’

Here, help my asseblief om op te hou om my onnodig te bekommer, omdat ek glo dat U vir my sal voorsien en vir my sal sorg.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

David ·

Ja ek stem dat oormatige bekommernis onvanpas is vir ‘n Christen. Maar die skrywer kan tog meer deeglik na die teks kyk en bepaal dat dit in die konteks eintlik praat van ‘n ander era, die Messiasryk, wat na die wederkoms sal geld. Dan gaan mense inderdaad uit die hemel onderhou word en sal AL ONS AARDSE BEHOEFTES elke dagvoorsien word. Die Messiasryk was met Jesus se eerste koms ophande, maar is uitgestel toe Israel vir wie Hy in die eerste plek gekom het, Hom verwerp het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.