Gedagte vir die dag: Geloof is nie ingewikkeld nie

 woestyn.jpg

Foto: pixabay.com

As ek u goedgesindheid geniet, Here, moet U saam met ons wegtrek. Al is die volk moedswillig, moet U ons ongeregtigheid en sonde vergewe. Laat ons tog u volk bly, u eiendom. (Deuteronomium 10:12)

… Die Here jou God vra net dat jy Hom … liefhê en dien met hart en siel. Dit gebeur soms dat ons Christenskap te ingewikkeld wil maak. Ons argumenteer ure oor teologiese kwessies en dit is nie verkeerd nie. Ons moet diep delf in God se Woord, maar Moses sê in vandag se teksgedeelte Christenskap is so eenvoudig soos: 1) Luister aandagtig na wat God vir jou sê, 2) Gehoorsaam sy bevele, 3) Jy moet Hom met jou hele hart liefhê.

Ons vra dikwels: “Wat verwag die Here van my?” Moses gee hier ’n opsomming van dit wat die Here van ons verwag. Dit is in ’n eenvoudige vorm en almal kan dit onthou. Mense het ’n behoefte aan ’n verhouding met God, nie wettiese godsdiens nie. Carlo Carette het gesê: “Moenie God met jou verstand probeer raakvat nie, dit is onmoontlik. Raak Hom aan met jou liefde, dit is wel moontlik.”

Ons bemoeilik ons geloof so dikwels met reëls en vereistes wat deur mense gemaak en gestel word. Jesus het Hom talle kere uitgespreek teen die Fariseërs wat so wetties was. Wettisisme maak ’n mens veroordelend, hardvogtig, onvergewensgesind. Ons werke beïndruk God nie so danig nie, maar eerder waarom ons dit doen. Mensgemaakte godsdiens maak ons net swaarmoedig, want ons besef hoeveel ons tekort skiet en dan begin ons met ’n skuldige gewete rondloop. Genade spreek ons vry, nie skuldgevoelens nie. Ons moet versigtig wees om nie die klem te laat val op ons gedrag en prestasies nie, maar op ons verhouding met die Here. Ons moet God liefhê.

Hoe kan ek God liewer kry, vra jy dalk? Leer ken Hom beter deur sy Woord en jou liefde vir Hom sal groei. Praat gedurig met Hom in gebed, soos enige ander verhouding groei wanneer ’n mens kwaliteit-tyd met iemand deurbring.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

al ·

Ek stem. Ek laat my nie deur twisvrae en intellektuele manier die Bybel ontleed nie. Sy woord is vir my genoeg en daarom lees ek dit eerder kinderlik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.