Gedagte vir die dag: Geloof is om God se voorskrifte te volg

ATTACHMENT DETAILS Gestoor. Bybel_blaar_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Jakobus 1:19–27

Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself … Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ’n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen. (Jakobus 1:22, 25)

Vir God is gehoorsaamheid baie belangrik. Jou hóór en lees van God se Woord moet uitloop op dóén, skryf Jakobus aan sy lesers. Jou gehoorsaamheid sal dan in jou dade na vore kom en die mense wat na jou leefstyl kyk, sal nie anders kan as om jou geloof daarin weerspieël te sien nie. Indien jy daarvoor kans sien, sal jy gelukkig wees in wat jy doen, maar wanneer God se kinders buite sy wil en Woord optree, sal geluk hulle bly ontwyk.

God se voorskrifte vir die lewe word in die Bybel duidelik uiteengesit. Corrie ten Boom het graag gesê dat ons nie bekommerd hoef te wees oor die dinge in ons Bybels wat ons nie verstaan nie. Ons behoort ons wél te bekommer oor die dinge wat ons wel verstaan, maar nie doen nie.

Jy hoef nie veel verder as die Tien Gebooie in die Ou Testament (Eks 20) en Jesus se Bergpreek (Matt 5–7) in die Nuwe Testament te lees nie. Daar word dit vir jou uitgespel hoe God wil hê dat sy kinders hier op aarde moet leef. Die enigste manier hoe om waarlik gelukkig te wees en ware vrede in jou hart te hê, is om volgens God se voorskrifte te leef.

Hemelse Vader, ek is jammer dat daar nog so baie van u voorskrifte is wat ek nié gehoorsaam nie. Leer my u wil in u Woord en help my om dit te gehoorsaam.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.