Gedagte vir die dag: Geloof is om in Jesus se voetspore te loop

voetspore_woestyn_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Matteus 5:43–48

Julle moet soos julle hemelse Vader wees. Hy het almal hier op aarde lief … As julle vol liefde en respek optree teenoor almal met wie julle te doen kry, dan doen julle presies wat die wet van julle vra. Dan stap julle in julle hemelse Vader se voetspore. Dan is julle soos Hy! (Matteus 5:48, Die Boodskap)

Terwyl Jesus op aarde was, was Hy die lewende voorbeeld van Iemand wat lewe soos God vra. Sy liefde vir, sy gehoorsaamheid aan, en sy vertroue op sy hemelse Vader was in alles wat Hy gedoen het sigbaar. Hy het God se liefde vir mense gedemonstreer in sy eie omgeeliefde vir elke mens met wie Hy in aanraking gekom het. Hy wou almal help, het almal met simpatie en empatie behandel. Juis daardie mense op wie ander neergesien het, het Hy sy vriende gemaak: ’n berouvolle tollenaar, vroue wat allermins onbesproke was, en allerhande ander randfigure. Op elkeen van hulle het Hy sy liefde uitgestort en vir almal sy onvoorwaardelike vergifnis aangebied. Met alles wat Hy gedoen het, was Hy gehoorsaam aan die opdrag wat Hy van God gekry het – om die boodskap van verlossing op aarde uit te dra.

Ons as gelowiges moet in sy voetspore trap. ‘Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het,’ skryf Johannes (vgl. 1 Johannes 2:6). Indien jý in God glo, word daar van jou verwag om te leef soos Jesus; om dus die dinge te doen wat Hy gedoen het, om lief te hê soos Hy liefgehad het. ‘Dit is nie belangrik of jy al volmaaktheid bereik het nie, maar of jy daarheen op pad is,’ skryf Die Bybellennium. Is jy?

Here Jesus, dit voel vir my asof ek dit nooit sal kan regkry om soos U te leef nie. Maak dit asseblief vir my moontlik deur u Gees wat in my woon.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elize ·

Net om te se dankie ,liewe Jesus wat sal ek sonder U wees Dankie vir my kind dankie ek sit haar by U voete elke dag dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.