Gedagte vir die dag: Geloof laat alles vir jou goed afloop

 sonsopkoms_vrou_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Psalm 138

Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor en my nuwe krag gegee … As die nood my oorval, hou U my in die lewe … U strek u hand uit, u regterhand red my. Die Here sal vir my alles goed laat afloop. (Psalm 138:3, 7–8)

Geloof vrywaar jou nie van swaarkry, siekte, teleurstelling en hartseer nie. Dit is alles dinge waarmee élke kind van God te doen kry gedurende sy/haar lewe op aarde. Dawid was iemand wat telkens in sy lewe in doodsgevaar verkeer het. Maar God het élke keer sy gebede verhoor, hom nuwe krag gegee en hom uit die gevaar gered. Om daardie rede kan hy uit ondervinding getuig dat die Here vir hom alles goed sal laat afloop.

Jesus het sy dissipels gewaarsku dat hulle dit moeilik in die wêreld sal hê, maar Hy sê daarby dat hulle maar mag moedhou omdat Hy die wêreld reeds oorwin het (Joh 16:33). Almal wat in God glo het die versekering dat al gaan dit ook op aarde hóé sleg met hulle, God eendag vir elkeen van sy kinders alles goed sal laat afloop (Rom 8:28). Ons weet immers dat die hemel vir ons wag – daardie plek waar ons elke oomblik in God se teenwoordigheid sal verkeer, waar álle seerkry en swaarkry vir ewig verby sal wees, waar ons nooit weer hartseer sal wees of met die dood gekonfronteer sal word nie. Alle gelowiges kan dus saam met Paulus getuig: ‘Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ʼn heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly’ (2 Kor 4:17).

Vader, ek loof U dat u Woord my verseker dat my aardse swaarkry van die oomblik vir my sal uitloop op ’n heerlikheid wat alles verreweg sal oortref en wat vir ewig sal bly. Ek sal in U bly glo!

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.