Gedagte vir die dag: Geloof laat jou luister na die stem van jou gewete

pad_herfs_bos_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Jesaja 30:19–26

Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ’n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’ Dan sal jy besef dat jou afgode … onrein goed is, en jy sal hulle weggooi soos ’n mens ’n smerige lap weggooi. (Jesaja 30:21–22)

Ons het al almal daardie stemmetjie gehoor wat ons waarsku wanneer ons met verkeerde dinge besig is. Dit hang net van onsself af of ons daarna gaan luister of nie. Gewoonlik is gelowiges ekstra sensitief vir die stem van hulle gewete en hulle is dan ook van die min hedendaagse mense wat bereid is om daarna te luister. Tog kom daar tye in ons elkeen se lewe dat ons ons doof hou vir hierdie stemmetjie. Ek het eenkeer gelees die meeste mense volg hulle gewete op dieselfde manier as wat ’n mens ’n kruiwa volg – ons stoot dit in die rigting waar óns wil gaan.

As jy werklik in God glo, behoort jy gewillig te wees om ánders na die stem van jou gewete te luister; om dit te gehoorsaam, ook wanneer dit jou stuur in ’n rigting waarheen jy nie graag wil gaan nie. Indien jy gehoorsaam is aan die ‘stem agter jou’ sal jy nooit verkeerd kan gaan nie, want dan weet jy dat jy God se wil doen. Uiteindelik is jou gewete niks anders as die Heilige Gees wat jou wil leer hoe jy moet leef nie. En dit is net jy self wat kan besluit of jy na Hom gaan luister of nie.

Gees van God, ek is jammer dat ek so baie kere u stem in my lewe stilmaak omdat ek ’n ander koers wil inslaan. Help my om fyn na u stem te luister en dit altyd te gehoorsaam.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ansa ·

Baie dankie vir die mooi boodskap en ja mens kan maar na daardue stemmetjie luister ek het dit al agter gekom ek glo ook dit is die Heige Gees wat met my praat. Geseende dag vir almal.

Verward ·

Daai stemmetjie wat vir mense vertel dat hulle BESIG is om verkeerd te doen, sê al vir 25jr slegs vir my “oops, dit was die verkeerde ding” nadat ek die fout gemaak het. Wens die ou stemmetjie wil bietjie betyds wees…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.