Gedagte vir die dag: Geloof laat jou vrese verdwyn

uitgestrekte_hand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Jesaja 41:1–13

Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou … Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou. (Jesaja 41:10, 13)

Wanneer God die belofte hierbo aan sy volk gee, is hulle in ballingskap weggevoer en meen hulle dat God hulle verlaat het. Maar God verseker hulle dat hulle vrese onnodig is, dat Hy steeds die Verbondsgod is wat hulle sterk sal maak, hulle sal vashou en met sy eie hand sal red. Teenoor die verskrikking wat hulle elke dag ervaar, het hulle die versekering dat God hulle sal help. Hy het hulle nie verlaat nie, maar hou steeds hulle hand vas en belowe om hulle weer na hulle land terug te neem.

Soos die ballinge van ouds lewe ons ook in ’n vreesgevulde wêreld. Daar is só baie dinge waarvoor ons bang is dat dit moeilik is om elkeen van ons vrese na God te neem én hulle daar by Hom te los. Al kry ons dit ook by geleentheid reg, kom daar so baie nuwe vrese by dat ons bang bly. Dit is net geloof in God wat ons vir goed van élkeen van ons vrese kan verlos. God se Woord verseker jou steeds van sy liefde en verlossing. Hy is nog altyd dié God wat sy kinders red, wat hulle vashou. Hy wil ook vir jou sterk maak en jou help. Daarom hoef jy nie langer bang te wees nie!

Here, U is nog altyd die God wat bereid is om my te help en my hand vas te hou. Dankie dat ek nie langer bang hoef te wees nie.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tannie ·

Baie dankie. Na gister se nuus oor die privatisering van die Reserwe Bank het ek hierdie woorde baie nodig. Alles in Suid-Afrika val uitmekaar, net die Here bly standvastig.

Anandre ·

Hierdie teksvers het ons as familie staande gehou toe my pa ongeveer 25 jaar gelede ernstige kankerbehandeling moes ondergaan. God het hom in Sy hande vasgehou deur dit alles en 25 jaar later is my pa steeds kankervry. Hy kan slegs vir ons sorg wanneer ons besef dat ons dit nie op ons eie kan doen nie. Sy mag en krag is sterker as enige ander mag op aarde. Al wat Hy van ons verwag is dat ons op Hom sal vertrou en in Hom sal glo vir absolute versorging en genesing in alle aspekte van ons lewens. Ons God is groot en almagtig!

Kobie le Roux ·

Ek sal nie op hierdie stadium kommentaar lewer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.