Gedagte vir die dag: Geloof maak jou dankbaar

gelukkig_uitgestrekte-arms_sonsopkoms_vreugde_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Psalm 100

Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap! Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam, want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag. (Psalm 100:1–2, 4–5)

Mense wat naby God leef en in Hom glo, kan nie anders as om te besef wat Hy alles – so onverdiend – vir hulle doen en gee nie. Om hierdie rede behoort álle Christene dankbare mense te wees. Waardeer jy al die dinge wat jy uit God se hand ontvang, of hunker jy steeds na nóg? Is jy tevrede met jou lewe en jou gawes, of vergelyk jy jouself gedurig met mense wat méér as jy het? Dit is ’n goeie idee om elke dag ’n lysie te maak van al die dinge wat jou tot dankbaarheid stem en God dan vir elkeen van hulle afsonderlik te loof. Onthou, Hy is die Gewer van elke volmaakte gawe in jou lewe.

Die psalmdigters het die kuns verstaan hoe om hulle eie geloof en dankbaarheid aan God te betuig. Hulle dankbaarheid het altyd oorgeloop in ’n lofsang aan God, soos Dawid so mooi in Psalm 100 illustreer. Ook in Psalm 116:17 en 147:7 skryf hy: ‘Ek wil U loof met ’n dankoffer, ek wil die Naam van die Here aanroep … Sing vir die Here ’n danklied, sing tot eer van ons God met begeleiding van die lier.’

Al die dinge wat God vir jou doen, behoort jou dankbaar te maak. Is jy nie lus om nou jou eie danklied vir God neer te skryf nie?

Here God, vandag wil ek vir U ’n danklied sing; vir die res van my lewe wil ek U loof vir alles wat U vir my doen en gee.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Agnes ·

Ja Here, U is die Enigste Waarheid, U het my gered! U het my naam in U hand pals gegraveer en U Is! Baie dankie . Ek loof en Prys U omdat U , die Enigste God is, DIE 3 Enige, aan U en net aan U kom alle lof toe. Maak U Beeld al hoe meer in my sigbaar, maak my al minder en word U al meer in my.. geloof en geprys sy U Naam. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.