Gedagte vir die dag: Geloof maak jou van God se liefde bewus

see_sonsopkoms_hart_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Psalm 103:8–17

Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde … want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien … onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien. (Psalm 103:8, 11, 17)

Dit is net dié mense wat in God glo wat werklik die omvang van sy liefde vir hulle besef. Wanneer ons God ken, kry ons te doen met ’n liefde wat so sterk is dat dit ons lewe totaal verander, ons help om ons swakhede te bowe te kom en dié mense te wees wat God wil hê ons moet wees. God stort immers dié liefde op elkeen van sy kinders uit, alhoewel ons dit nooit kan verdien nie. Hy doen dit juis omdat Hy graag wil hê dat ons Hom ook met dieselfde passie sal liefhê. Hoe beter ons God leer ken, hoe meer ons tyd saam met Hom deurbring en hoe dieper ons in sy Woord delf, hoe meer verstom sy liefde ons. Ons ontdek algaande dat heeltemal niks ons van God se liefde kan skei nie, dat Hy dit nooit van ons sal onttrek nie, dat ons maar daarop kan staatmaak vir altyd en in alle omstandighede (Rom 8:38).

Daar is egter ook ’n ander kant: Hoe meer jy omtrent God se liefde vir jou leer, hoe meer besef jy hoeveel jou eie liefde vir Hom tekort skiet. Jy kan jou liefde vir God uitleef deur ánder mense lief te hê. As liefde uit jou lewe straal, vertel dit vir almal wat na jou kyk dat jy in God glo en Hom liefhet.

Here God, ek wil juig oor U onverstaanbare, onverklaarbare, ewige liefde vir my! Help my om U met my hele hart, siel en verstand lief te hê.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.