Gedagte vir die dag: Geloof maak vergifnis moontlik

voete_beker_Stiltetyd.jpg

Foto: jamiegrubb.wordpress.com

Lees: Efesiërs 4:22–32

Moenie toelaat dat julle bitter word nie. Beteuel jou humeur en as jy dalk jou humeur verloor, moet jy nie kwaad bly nie. Moenie mekaar vloek of slegte dinge vir mekaar sê nie. Moet ook nie iets doen wat vir ’n ander een sleg is nie. Behandel mekaar mooi en goed … Sien mekaar se foute oor net soos God julle foute oorgesien het omdat julle Jesus s’n is. (Efesiërs 4: 31–32, Die Boodskap)

‘Ons verhoudings met ander mense is baie belangrik vir God. Hy kan geen onvergewensgesindheid of hardheid in ons teenoor enigiemand verdra nie,’ skryf Catherine Marshall.

Vir ware vergifnis het jy geloof en liefde nodig. Om iemand te vergewe beteken dat jy gewillig is om die persoon wat jou te na gekom het, se foute oor te sien. Gelowiges mág nie met ’n stuk bitterheid teenoor iemand anders bly rondloop nie. God vra van ons om mekaar onvoorwaardelik te vergewe – om op dieselfde manier te vergewe as wat Hy óns vergewe het.

Indien jy weier om te vergewe, sal jy nooit werklik gelukkig kan wees nie. Omdat alle mense onvolmaak is, is dit ’n gegewe dat jy soms deur ander mense seergemaak sal word. Dink mooi of daar iemand is wat jy nog sukkel om te vergewe. Moet dan nie langer uitstel om dit te doen nie – om daardie persoon te vergewe is ’n wilsbesluit. Besluit nóú om dit te doen.

Soms is dit ook nodig om jousélf te vergewe vir die foute wat jy in die verlede begaan het, byvoorbeeld dié kere wat jy ander seergemaak het. God het jou reeds vergewe as jy Hom gevra het; met sy hulp sal jy ook jouself kan vergewe en met ’n skoon boek van voor af kan begin.

Here, vergewe my onvergewensgesindheid en maak my bereid om ander – én myself – te vergewe soos U my vergewe het.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.