Gedagte vir die dag: Geloof oorwin mislukkings

Boekevat-Wortelgat-Berg-ABrits.jpg

Foto: Annelize Brits

Lees: Psalm 94:12–19

As die Here my nie gehelp het nie, was dit klaarpraat met my.  Wanneer my probleme my onderkry, weet ek dat U my sal help, Here.  U sorg vir u kinders met u liefde.  As ek bekommerd begin word, dink ek maar net daaraan dat U vir my sorg.  Dan word ek weer rustig. (Psalm 94:17–19, Die Boodskap)

Sukses is nooit finaal en mislukking nooit dodelik nie, lees ek onlangs in ’n anonieme aanhaling. Daar is geen suksesverhale wat nie ook mislukkings insluit nie. Sommige mense is geneig om dadelik tou op te gooi wanneer hulle mislukkings beleef, terwyl gelowiges met God se hulp dit elke keer regkry om hulle mislukkings in suksesse om te draai dikwels op ’n heel ander manier as wat hulle dit beplan het. Hulle wéét seker en ervaar dit dikwels dat God daar is om hulle hande vas te gryp as hulle voete wil gly. Dit is juis in hierdie tye van mislukking dat ons maar met vertroue kan aanvaar dat God ons ook dán sal vashou. Hy is elke keer daar wanneer ons twyfel of ons nog op Hom kan vertrou en dat dit dus ‘klaarpraat met ons is’, soos Die Boodskap se weergawe van ons kernvers sê. Die 1983-vertaling van Psalm 94:18–19 stel dit só: ‘Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.’

Mislukkings in jou eie lewe hoef jou nooit jou geloof te laat verloor nie – nie in God nie, ook nie in ander mense óf in jou eie vermoëns nie. Uiteindelik kan jou mislukkings die trapklippe na sukses word.

Hemelse Vader, dankie vir die pluspunt van geloof wat my regop hou op voetglydae. Ek weet dat u troue liefde my elke keer weer rustig sal maak.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dankbaar ·

Sjoe, baie dankie vir die wonderlike Woord vandag! Ek het dit werklik vanoggend nodig gehad veral op so Maandag oggend. God is goed, Hy kom altyd deur vir ons selfs al dink mens jy verdien dit nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.