Gedagte vir die dag: Geloof soos ’n kind

kinders_hardloop_veld_cannahealth_com.jpg

Foto: cannahealth.com

Jesus het die brode geneem, ’n dankgebed gedoen en dit aan die mense wat daar gesit het, uitgedeel en ook soveel van die vissies as wat hulle wou hê. Nadat die skare mense versadig was, sê Jesus vir sy dissipels: “Maak die oorskietstukke bymekaar sodat daar niks vermors word nie.” (Johannes 6:11-12)

Ons ken almal die storie van toe Jesus vyf duisend gevoed het met net vyf brode en twee visse (Johannes 6:1-14). ’n Klein seuntjie het vir Jesus alles gegee wat hy gehad het sodat Jesus almal kon voed wat kom luister het na sy prediking. Het jy al jou vyf brode en twee visse vir die Here gegee?

Die Here stel dit duidelik dat ons geloof soos ’n kind moet hê. Jesus het gesê: “Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie aanvaar nie, sal nooit daar ingaan nie” (Lukas 18:17).

Ons moet almal glo dat God die onmoontlike kan doen. As jy ’n volwasse man of vrou vra of dit moontlik is om vyf duisend mans, plus nog hul vroue en kinders, met net twee vissies en vyf garsbrode te voed sodat almal meer as genoeg te ete het en daar boonop nog oorskiet is, sal hulle vir jou sê dat dit onmoontlik is. Hulle sal ook reg wees. Dit is inderdaad onmoontlik en dit is presies waarom dit ’n wonderwerk genoem word.

Ons moet ons twee visse en vyf garsbrode na die Koning van die konings neem sodat Hy dit kan vermenigvuldig. In Matteus 17:20 sê die Here: “As julle geloof selfs so klein soos ’n mosterdsaadjie was, sou julle vir hierdie berg sê: ‘Skuif soontoe,’ en hy sal dit doen. Ja, niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”

Ons moet geloof in die Here hê, dan sal Hy dít wat ons Hom gee, vermenigvuldig. Gee jou lewe, jou gesin en jou visie vir die toekoms onvoorwaardelik vir Jesus en Hy sal dit vir jou teruggee in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol (Lukas 6:38).

Liewe Here, U het sedert die Bybelse tyd tot nou toe al oor en oor bewys dat U ’n wonderwerker is en dat niks vir U onmoontlik is nie. Vermeerder my geloof, o Here. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.