Lees: Psalm 116
Bande van die dood het my omsluit, doodsangs het my aangegryp, ek het benoud en bekommerd geword. Toe het ek die Naam van die Here aangeroep … Ek het in U bly glo, selfs toe ek gedink het dit is klaar met my en toe ek in my vertwyfeling besef het: ek kan op geen mens staat maak nie. (Psalm 116:3–4, 10–11)
Wanneer Dawid hierdie psalm skryf, verkeer hy in doodsgevaar. Tog maak sy geloof in God dit vir hom moontlik om te volhard. Hy getuig dat hy in God blý glo het, selfs toe hy gedink het dit is klaar met hom en dat hy op niemand kon staatmaak nie.
Dit is net geloof in God wat dit vir mense moontlik maak om in tye van doodsgevaar en swaarkry te bly volhard, want volharding is ’n gawe van die Heilige Gees. Ons as gelowiges kan in enige stryd tot die einde volhard, omdat ons weet dat die prys van die ewige lewe aan die einde van ons lewenswedloop op ons wag.
‘Soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard,’ beaam Jakobus 1:3–4. Jou geloof in God sal dit vir jou ook moontlik maak om te volhard, om aan God vas te hou al stort alles om jou ineen. Jy het immers die belofte dat dié mense wat tot die einde toe volhard, gered sal word (Matt 24:13). Jy kan ook soos die psalmdigter steun op God se hulp in die verlede – omdat dit jou oortuig dat Hy dit ook in die toekoms sal doen.
Hemelse Vader, help my om te volhard tot die einde toe, sodat die prys van die ewige lewe myne sal wees.
Ek kan getuig daarvan.. oktober 2012 is ek gediagnoseer met pankreas kanker.. dr’s het my 6mnd gegee om te leef..ek het gebid en gevra..laat U wil geskied.. dit is nou 2017 Jesus dra my nog steeds!
Dit is baie mooi, maak my treurig egter. Ons Matie-student het dalk dieselfde woorde gebruik.
Ek kan getuig dit is waar. Ek was daar waar alles tevergeefs is niks kan help nie op pad na die dooderyk toe ek het geroep na Jesus en Hy het my jammer gekry, al die lof en eer aan God wat vir my n tweede kans gee al die lof en eer aan God