Gedagte vir die dag: Geloofsbelydenis

man_see_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 16

Ek het vir die Here gesê: “Ek behoort aan U, daar is vir my niks goeds nie behalwe by U”. (Psalm 16:2)

Die Bybelse psalms is feitlik almal liedere of gebede, dit wil sê lof- woorde wat aan die Here gebring word, vrae en versoeke wat aan Hom gerig is, pleitredes wat vir sy ore bedoel is.

Psalm 16 is egter ’n geloofsbelydenis.

Geen afgod is so ’n eerbetuiging werd nie, sê dié digter. Dit is die Here, die enigste God, wat hom sy tuiste gegee het. Die Here het dit self uitgemeet; hy wat hier sing, het dit bloot geërf – en ís dit mooi!

O, en ek is altyd van Hom bewus! verklaar hy. Ek weet Hy is altyd by my, dag en nag. Daarom loop ek sonder aarseling of weifeling. Daarom leef ek veilig, duskant én anderkant die graf. Hy leer my hoe om te lewe én hoe om te sterwe. Ek leef uit sy hand, ek sterf in sy hand. Ek behoort aan Hom.

Ons mag maar weet: Geen geloofsbelydenis bevat die woorde van ’n geloofskampioen nie. Dit verduidelik nie hoe groot of hoe kragtig of hoe suiwer die opsteller daarvan se geloof is nie. Daar  is bloot dié erkenning: Ek kan nie sonder U nie. Dié sug: Moet my asseblief nooit aan myself oorlaat nie. Dié jubeling, soos van ’n klein kindjie: My God is so groot, so sterk en so magtig, daar is niks wat my God nie kan doen nie.

Dan is daar, herhaaldelik, dié woorde: “mooi”, “pragtig”, “bly”.

En “juig” en “veilig”. En uiteindelik: “oorvloedige blydskap”.

Nee, ’n geloofsbelydenis handel nie eintlik oor geloof nie;  dit sê bloot, soos ook Tomas eeue later: “My Here en my God!” (Joh 20:28).

Grote God, aan U die eer – ook vir die geloof wat U my gee.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Raadslid ·

Geloofsbelydenis:

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde. En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig, gestorwe en begrawe is, en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, vanwaar Hy sal kom om te oordeel die lewende en die dode. Ek glo in die Heilige Gees. Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike Kerk; die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes; die wederopstanding van die vlees, en ‘n ewige lewe. Amen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.