Geloofsreis bring nuwe hoop vir sjeik se seun

Sedert Anwar tot bekering gekom het, is die Bybel sy gunsteling-leesstof (Foto verskaf)

Anwar (25), die rebelse seun van ʼn sjeik in Sirië, het geen hoop gehad nie en is deur ʼn duister toekoms in die gesig gestaar. God het egter ʼn ander plan met hom gehad… Hy het nuwe lewe in Jesus gevind en ʼn nuwe begin by ʼn Sentrum van Hoop gemaak, met ʼn nuwe wêreld van hoop wat vir hom oopgemaak is.

Voordat hy sy hart vir Jesus gegee het, het Anwar in ʼn gemeenskap met sowat 700 mense gebly waarvan sy pa die leier was. Al die dorpenaars is streng volgelinge van ʼn geheimsinnige Moslem-sekte en het hom summier verwerp toe hy die Here as sy Verlosser aangeneem het.

ʼn Nuwe begin

Anwar se welvarende en gesiene familie was woedend oor sy bekering en het hom weggejaag, so hy moes van voor af begin.

Hy vertel: “Ek het alles verloor en was skielik sonder ʼn heenkome. Ek moes my huis prysgee, en is deur my gesin, familie en gemeenskap verwerp. Selfs my broers en susters wou niks meer met my te doen hê nie, en my beste vriende het gedreig om my dood te maak.

“Ek het by ʼn Sentrum van Hoop – ʼn kerk wat toegerus is om gelowiges met dringende behoeftes te help – vir hulp aangeklop nadat ʼn vriendin my in kontak gebring het met Geopende Deure se vennote daar. Hulle het my met blyplek en ʼn werk om vir kinders Engelse klasse te gee, gehelp. Maar die belangrikste van alles, ek het deur die Here se genade ʼn nuwe familie in Christus en nuwe hoop vir die toekoms gevind.

“Die sentrum gee ekstra klasse aan leerlinge van 8-15 jaar oud en ondersteun Christen-families geestelik met aktiwiteite wat kinders leer hoe om ʼn verhouding met God te hê. As dit nie vir my broers en susters by die sentrum was nie, weet ek nie wat ek sou gedoen het nie. Ek sou haweloos, honger en alleen gewees het.”

Anwar se lewe het handomkeer verander nadat hy tot geloof gekom het. “Voor my bekering het ek al my vertroue en hoop vir ʼn beter toekoms verloor, maar nou het ek hoop in Jesus. Die Sentrum van Hoop het vir my ʼn nuwe begin gegee nadat my ou familie vir my soos vreemdelinge geword het, en ek wil nou hierdie hoop aan die volgende generasie oordra,” sê hy.

Van depressief tot verslaaf aan Jesus

Anwar se lewe het drasties verander nadat hy sy hart vir die Here gegee het (Foto verskaf)

Anwar beskryf sy ontmoeting met Jesus soos volg: “Ek was vantevore depressief, maar het nou letterlik verslaaf daaraan geraak om Jesus te ken. My geloofsfamilie het my geleer hoe om te bid en met Jesus oor my probleme te praat. Ek het my hart teenoor die Here uitgestort en begin om die Bybel te lees, na Christelike video’s te kyk, en na aanbiddingsmusiek en preke te luister.”

Dit verg buitengewone moed om in die Midde-Ooste ʼn Christen te word as jou familie Moslems is. Die Kerk in Sirië is in ʼn voortdurende stryd om oorlewing gewikkel weens ʼn dekade van oorlog, ʼn ekonomiese krisis en die gevolge van die Covid-19-pandemie in dié land. Talle Christene soos Anwar ervaar ernstige vervolging, moeilike uitdagings en swaarkry – alles omdat hulle die Here as hul Verlosser aangeneem het.

Sentrums van Hoop

Deur ons plaaslike vennote, help Geopende Deure talle gelowiges soos Anwar by die Sentrums van Hoop in Sirië. Sowat 20% van die kerke in Sirië (110 gemeentes) is alreeds in Sentrums van Hoop omskep. Duisende vervolgde families vind hier hoop vir ʼn nuwe begin en hulp vir ʼn nuwe toekoms.

Jy kan vervolgde gelowiges in die Midde-Ooste ondersteun deur verskeie projekte by die Sentrums van Hoop. Klik hier om die Kerk in die Midde-Ooste vandag met ʼn geskenk van nuwe hoop te seën.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.