Gedagte vir die dag: Geloofwaardigheid, sekerheid, vasgeanker

anker-stiltetyd-fietzfotos-pixabay.jpg

Foto: fietzfotos/pixabay

Hierdie hoop besit ons as ʼn veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is.”  (Hebreërs 6:19 – AFR83)

Geloofwaardigheid en sekerheid, oftewel vertroue, is onafskeidbaar van mekaar.

Geloofwaardigheid is ʼn toonbeeld van karakter en inbors. In hierdie betrokke hoofstuk in Hebreërs vind ons ʼn verwysing na die belofte wat God aan Abraham gemaak het. God wou aan Abraham die sekerheid gee dat Hy sy woord sal eer. Omdat God geen hoër gesag as Homself gehad het by wie Hy sy woord kon bevestig nie, het Hy sy woord direk aan sy naam verbind.

Die Woord leer ons dat ons die sout van die aarde is. Sout dien ʼn veelvuldige doel: dit is ʼn noodsaaklike mineraal vir die liggaam, dit gee geur aan voedsel en word ook gebruik vir die preservering van bederfbare produkte. Minder algemeen bekend is dat sout in die antieke tye so waardevol geag is dat dit as geldeenheid gebruik was. Die skaarsheid of gebrek aan beskikbaarheid van sout in antieke tye het ʼn drastiese afname in die gesondheid en welstand van vele bevolkings teweeggebring. Daarom was dit praktyk om aan elke Romeinse soldaat as deel van sy vergoedingspakket ook ʼn maat sout te gee. Vandaar het ons dan die Latynse uitdrukking “salarium argentum” of soos dit vandag in die Afrikaanse taal bekendstaan “salaris”.

Net soos die geval met sout wat geur gee, maar as dit verslaan het, geen waarde vir die mens het nie, so ook gee jou eer diepte, onwrikbare vertroue en ʼn vasgeankerdheid aan jou woord, maar as jou woord sy eer verloor het, het dit alles verloor!

As gelowige is jou eer nie opsioneel ten opsigte van jou woord nie. Jou “ja” moet jou “ja” wees en jou “nee” moet jou “nee” wees. Jou woord moet direk verbind wees met jou naam, sodat wanneer jy ʼn belofte aan ʼn ander maak, hulle met sekerheid in hul hart kan weet dat jy jou woord gestand sal doen, selfs al kos dit jou ook wat.

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | E-pos

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.