Gedagte vir die dag: Gelowige gebed

bid-vrou-son-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. En God se vrede, wat meer is as wat ’n mens dink, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou omdat julle aan Christus Jesus verbonde is. (Filippense 4:6-7)

… waar ’n taamlike groep saam was en gebid het. (Handelinge 12:12)

 In Handelinge 12 gaan Petrus na die huis van Maria toe, die ma van Johannes Markus, waar almal saam was om te bid. Toe Petrus aan die deur klop, het ’n diensmeisie met die naam Rodé kom kyk wie dit is. Toe sy Petrus se stem herken, was sy so bly dat sy binnetoe gehardloop het en vir almal gaan sê het wie dit is sonder om vir Petrus die deur oop te maak. Maar almal wat daar was, het geweet Petrus is in die tronk en het haar probeer reghelp: “Hulle het vir haar gesê: ‘Jy is skoon van jou wysie af!’ Toe sy egter daarmee volhou, het hulle gesê: ‘Dan is dit seker Petrus se engel’” (Handelinge 12:15).

Intussen het Petrus voor die deur gestaan en aangehou klop. Toe hulle uiteindelik die deur oopmaak, sien hulle dat dit regtig Petrus is. Omdat hulle so ernstig gebid het, het die Here die tronkdeure oopgemaak en Petrus laat uitstap. Dit is die krag van gelowige gebed!

Ek wil jou aanmoedig om gelowig te begin bid, want God beantwoord sulke gebede. God beantwoord die gebede van getroue mans en vroue. Onthou, met God aan ons kant, is daar geen mens of organisasie wat teen ons kan staan nie. Al wat ons hoef te doen, is om te bid en te vertrou dat God vir die res sal sorg.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.