Gedagte vir die dag: Gelukkig is dié wat treur

berge_kruis_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Gelukkig is die treurendes, want God sal self hulle trane afvee. (Matteus 5:4)

Jesus se Bergpreek is die kern van sy woordbediening op aarde. In die Bergpreek preek Jesus nie bekering nie, maar Hy preek vir bekeerde mense. Dit gaan oor die koninkryk van God. Jesus wil vir ons sê: Só leef mense wat aan God se koninkryk behoort. Maklik is dit voorwaar nie. Maar as ons nie die Bergpreek deel van ons lewe maak nie, mis ons God se doel vir ons lewe.

Die Bergpreek begin met die bekende Saligsprekinge. Heel eerste: Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Die Christen se hele lewe  is gebou op ’n opregte afhanklikheid van God. Sonder God kan ons niks doen nie. Ons hele lewe is op God gefokus. En dan: Geseënd is dié wat treur. Wat bedoel Jesus? Moet ons lewenslank hartseer bly? Waaroor moet ons treur? Party mense sê ons moet treur oor al die slegte dinge wat in die wêreld aangaan. Ons moet treur oor sonde, ons eie sonde en ook die aaklige gevolge van sonde in die wêreld. Maar ook wanneer ons treur oor pyn en verlies kan ons weet dat die Here ons sal troos. Mense wat van God afhanklik is, treur met die wete dat hulle deur ’n liefdevolle Vader getroos sal word.

Bron:
By waters van rus deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MCH ·

Ek treur…

Ek, ek treur,
want ek moet die ander wang draai.
Ons hart is terstond verskeur,
van die oes deur ons gemaai.

Ek, moet treur,
bitter trane, stroom oor my wange neer.
Die Job era vir my en my volk,
onstuimig laat dit ons emosie kolk.

Ek treur,
die diep water waar ons moet deur!
die oormag wat ons onheil bewerk,
met spoedige wrewel sy greep versterk!

Treur,
volk eens hoog geëer,
verkanker, daar’s geen keer.
Hol beloftes wat weergalm.
Mensegoed, verweer, verarm.

Treur…
Nie meer…
Vertroos.
Is Sy kroos!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.