Gedagte vir die dag: Die gelykenis van die verlore seun

Herder_skape_veld_stiltetyd.jpg

Foto: Carbonchurch.com

Die jonger seun het teruggegaan na sy pa toe. En toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien aankom. Oorweldig met liefde en deernis het hy na sy seun toe gehardloop, hom omhels en gesoen. (Lukas 15:20)

In hierdie gelykenis het ons ’n boer wat sy lewe lank hard gewerk het. Sy jongste seun kom na hom en sê: “Ek is nou moeg daarvoor om hier te werk. Ek is moeg daarvoor om vroeg op te staan en oeste te plant. Ek wil my lewe geniet.” Die pa se hart is gebreek. Hy sê: “Maar, seun, die helfte hiervan gaan eendag joune wees.” Die seun antwoord: “Ek gee nie om nie! Ek wil nou my erfporsie hê.”

Die seun neem sy erfporsie na die groot stad en verkwis al sy geld. Uiteindelik het hy geen geld, vriende of ’n werk oor nie. Hy word ’n bedelaar op straat. Op ’n dag kom hy tot sy sinne en dink: “Dit gaan selfs met die werkers op my pa se plaas beter as wat dit met my gaan. Ek sal teruggaan en gaan werk vra.”

Kan jy jou voorstel hoe die pa elke dag teen skemer na die horison tuur en hoop dat sy seun huis toe sal kom? “O Here, bring asseblief my seun terug.”

Die seun ryloop van die stad af en bereik uiteindelik die ingang na die plaas. Hy skraap sy moed bymekaar en stap met geboë skouers met die grondpad na die plaashuis.

Kan jy jou die vreugde in die pa se hart voorstel toe hy opkyk en iemand met die pad sien aankom? Sy hart klop al hoe vinniger. Kan dit hy wees? Stadig maar seker herken die pa die buitelyne van ’n gebroke seun. Sy klere is vodde; hy lyk vuil en verstote.

Die pa loop by die huis uit en gee ’n paar treë in die rigting van die seun. Daar wel hoop in sy hart op en hy hardloop met uitgestrekte arms na sy seun. Hy omhels sy kind en die trane stroom oor sy wange. “My kind! Dis so lekker om jou te sien. Jy was verlore, maar jy het huis toe gekom!”

Saam stap hulle na die huis. Die pa nooi sy bure uit na die groot fees om sy seun se tuiskoms te vier.

Vader, dankie vir die verhaal van die verlore seun, wat wys dat U my altyd met oop arms ontvang, maak nie saak hoe ver ek van U weggeloop het nie. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dries ·

Ons het ‘n barmhartige GOD, wat as ons berou toon oor ons sonde, ons met ongekende warmte en liefde ontvang en versorg – vir ALTYD!

Maria ·

Hierdie stuk vanmore sien ek en besef weer baie..baie mense vandag toe kla ,opstandig ,ontdankbaarheid, ontevrede en ens asgevolg van bedanking .
Dankie dat ek U liefde kan vashou uit dankbaarheid wat ek het

TA strydom ·

Bedelaar ? Nee hy het varke opgepas en begeer om van die peule van die varke te eet. Dit is toe dat hy besef sy vader se slawe is beter af as hy. Dit is toe dat hy besliut om na sy vader terug te keer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.