Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande. (Psalm 8:5-7)
God skep die wêreld in ’n opgaande orde: Eers maak Hy die elemente, dan die water en die aarde, dan die plante en diere en ten slotte die mens. Elke skeppingsfase berei die toneel voor vir die volgende fase. As die hele toneel gereed is, plaas God die mens in sy perfekte wêreld, heel bo aan die ketting van die lewe. Dis soos ’n bouer wat grond gelykmaak, fondasies gooi, mure oprig, ’n huis bou en selfs die tuin aanlê – alles met die oog daarop dat ’n mens daarin sal woon, om geen ander rede nie. Só rig God die wêreld in – vir ons! Die mens was nie ’n nagedagte nie, maar die hoogtepunt en die doel. En ja – die Jode glo dat die vrou, wat héél laaste gekom het, die werklike kroon van die skepping is!
Die mens is God se grootste, beste en mooiste skepping – net onder die engele, soos Dawid sê. God sien steeds vir ons, vir my en jou, só: as sy beste en mooiste!
Dankie, liefdevolle Skepper, dat ek vir U goed en mooi is, al is ek my hoë roeping nie altyd waardig nie. Dankie dat U steeds – altyd – vir my lief bly! Amen.
Dankie Here vir soveel onverdiende liefde…Amen