Gedagte vir die dag: Gemaksones

Foto: Juanita Badenhorst.26

(E)n nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. (Gal 2:20)

Een goeie dag stap ek en vriende in ’n Londense straat – en eensklaps staan daar ’n man reg voor my. Hy lyk darem vriendelik en hy hou so ’n draad-kontrepsie omhoog. Hy vra of ek dalk in ’n kopmassering sou belangstel.

“Nee! Nee, dankie,” antwoord ek dadelik. Maar een van my vriende besluit dis nét die ding om te probeer, en hy gaan sit op die stoel.

“Is jý seker jy wil nie ’n kopmassering hê nie?” vra die man weer vir my. Ek wil nie van plan verander nie. Boonop is ek te skaam. Ek is veilig in my gemaksone, dankie.

Ná ’n hele ruk probeer hy weer: “Is jy seker?”

Ag, en toe gee ek maar in. Ek gee een lang tree uit my gemaksone uit – en stap binne-in een van die lekkerste ervarings wat ek in ’n lang tyd gehad het. Toe ek later uit die stoel uit opstaan, gloeiend en glimlaggend, sê die man so ewe: “Jy moet dalk vir meer dinge begin ja sê.”

Hierdie woorde het my jare lank bygebly. Op ’n manier het dit dalk my lewenskoers verander. Ek hét vir meer dinge begin ja sê, ek het meer gereeld my gemaksone verlaat.

’n Deel van jou gemaksone, het ek later geleer, is daardie hoekie waar jou selfsugtige begeertes gedien word. Jy is die alleenheerser daar. Binne die grense van dié gerieflike plek kraai jy koning. Om jou gemaksone te wil verlaat, vra dat jy eers aan jouself moet sterf.

Ek was verras toe ek ontdek hoe dankbaarheid en nederigheid in ’n wisselwerking met mekaar verkeer. Dis asof nederigheid die deur oop maak vir dankbaarheid om binne te kom. En dankbaarheid doen dieselfde met nederigheid.

Soms moet ons eers wegkyk van onsself voordat dankbaarheid kan deurbreek. Ek moet plek maak vir ’n ander perspektief as my eie, vir ’n ander oortuiging as dié waaraan ek tans vasklou. Dankbaarheid wat genade oopbreek en wat heilige blydskap ontketen, vra nederigheid.

Nederigheid vra ’n tree uit ons gemaksone uit. Hier ontvang die Gees van Christus ons. Dis die plek waar ons saam met Hom sterf en weer saam met Hom opstaan. Dan kan ons soos Paulus sê: “(E)n nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê” (Gal 2:20).

Ja, dankbaarheid vra dat ons in nederigheid uit ons gemaksone sal tree en vir Jesus “ja” sê. En dan in afhanklikheid wag dat Hy ons aan lewensvreugde sal laat proe.

Here, dankie dat U vir ons wys hoe nederigheid lyk. Dankie dat ons saam met U kan sterf. Dankie dat ons die lewe se vreugde saam met U kan geniet.

Bron:
100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Von ·

Here Jesus U het die weg vir ons kom baan….help my om nie in gemaksones te verval nie…in U alleen is daar volkome vreugde…Amen

Gerrie ·

Christus se dood aan die kruis wys my daar is geen hoop op verlossing deur die wet nie. Daarom is ek werklik dood soos voorgeskryf deur die wet, soos Christus dood was toe Hy Sy laaste asem uitgeblaas het. Deur Hom alleen kan ek lewe, my huidige lewe geniet, en ‘n glorieryke toekoms ingaan. God het my ‘n woonplek van Sy Gees gemaak. Die wet kan nie in my leef om vir my ‘n Goddelike lewe te gee nie. Hy het Homself aan die dood oorgegee sodat ek verlos kan wees van die ewige dood.

OWO ·

Nederigheid beteken nie om deur iemand gemanipuleer te word om dan impulsief op te tree nie, wat maklik kon gebeur het met die voorbeeld van die kopmassering.Daar is ‘n fyn lyn tussen nederigheid en manipulasie.Sodra iemand by jou aanhou om iets te doen wat jy nie van hou nie moet jy versigtig wees.Dink maar aan die hordes ongewenste telefoon bemarkers wat daagliks goed wil verkwansel.Handel volgens jou voorgevoel en soos die Heilige Gees jou lei.

Stanley Oberholster ·

Ek het ook nederigheid verwar met manipulasie en op die end besef dat ek die mens se eer gesoek het. Nou wat ek die manipulasie afgeskud het, is ek nou nie meer so gewild.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.