Gemeenskapsteater: “Uit Diep van Donker Nagte”

 1-Ina-Opperman-Regisseuse-Skrywer-DDN-2017.jpeg

Ina Opperman, regisseuse en skrywer (foto: verskaf)

[promosie-artikel]

Wie onthou hierdie Hervormingsfeesprogram wat in 2001 by Aardklop opgevoer is? Aanskoulik is hoogtepunte uit die kerkhervorming uitgebeeld in ʼn omvangryke multimedia-teater-in-die-rondte-produksie met karakters soos Guido de Bres, Calvyn en Luther. Die gehoor is op verrassende wyse midde-in die dramatiese gebeure geplaas wat 500 jaar gelede in die lewe van gewone gelowiges afgespeel het.

Verskeie versoeke is oor die jare gerig dat hierdie produksie weer opgevoer moet word. Vanjaar, as deel van die 500-jarige reformasieherdenking van die 16de-eeuse kerkhervorming, word Uit Diep van Donker Nagte weer opgediep, afgepoets en ʼn blinknuwe baadjie aangetrek. Die produksie word deur die Gereformeerde kerk Centurion, weer onder spelleiding van Ina Opperman, van 25 tot 28 Oktober opgevoer.

”Ons wil oud en jonk besiel en meesleur deur hierdie kragtige wolk van getuienis wat die eeue oorspan; hoop bring in tye van verwarring en elke gelowige oproep om die heerlike verlossingswerk van Christus te besing!” sê die regisseuse, Ina Opperman (gaan luister hier na ‘n gesprek met Ina) .

Gregoriaanse dreunsang open ʼn Middeleeuse kerktoneel. Ons ontmoet die jong worstelende Luther, wat ná ʼn konfrontasie met die kleurryke aflaatsmous, Tetzel, 95 stellings teen die kerkdeure van Wittenberg vasspyker. Hieroor word Luther tot orde geroep op die Ryksdag van Worms. Daar uiter hy die bekende woorde waarmee hy sy lewe op die spel plaas: “Hier staan ek. Ek kan nie anders nie! Mag God my help!”

 2-Ina-met-Susan-Uit-Diep-van-Donker-Nagte-Aardklop-2001-Susan-Fouche-neem-in-2017-weer-deel.jpg

Ina Opperman en Susan as jong dogtertjie tydens Aardklop 2001 (foto: verskaf)

Luther se woorde en dade ontbrand ʼn vlam van herlewing dwarsdeur Europa. Calvyn tree tevergeefs in die bresse vir die Hervormers en Hugenote.

Die konflik en vervolging bereik ʼn hoogtepunt tydens Bartholomeusnag wat ʼn bloedbruilofkomplot was, gesmee deur die sluwe Franse koninginmoeder, Catharina de Medici. Dan verskuif die toneel na Nederland, waar Guido de Bres sy geloofsbelydenis oor die paleismuur gooi en met sy lewe boet … maar God is in beheer. Christus se oorwinning aan die kruis en ʼn geloofsblik op die hemelse heerlikheid versterk en bemoedig getroue gelowiges deur alle eeue heen.

Die beleërde stad, Leiden, word ontset. Die Goue Eeu in Nederland breek aan. Franse vlugtelinge vind ʼn heenkome in Suid-Afrika en Amerika. So word die kosbare evangelieboodskap wêreldwyd versprei. In die eeue wat kom, kan gelowiges die Halleluja-triomflied sing.

Die skrywer en regisseuse, Ina Opperman, beskryf Uit Diep van Donker nagte as ʼn kunscollage van 16de-eeuse grafika wat dokumentêre vertelling met toneelspel, ensemblesang, kamermusiek, orreluitvoering en gehoordeelname saamsnoer.

Die produksie word aangebied deur die Gereformeerde kerk Centurion in samewerking met die regisseuse, Ina Opperman. Die opbrengs sal aan die Emeritaatsfonds van die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika vir die versorging van afgetrede predikante geskenk word.

Wat die produksie so besonders maak, is dat dit ʼn gemeenskapsprojek is met meer as 100 wat deel uitmaak van die produksie. Die oudste speler is 85 en die jongste drie jaar.  Daar is ook gesinne en families wat deelneem. Drie skole is betrokke en spelers en musikante van ongeveer 25 gemeentes van verskillende kerke neem deel.

 4-Susan-Fouche-Verteller-en-Choreograaf-in-DDN-2017.jpg

Susan Fouché ‘n paar jaar later. Sy vervul die rol van verteller en choreograaf (foto: verskaf)

Nog ʼn mylpaal is dat twee baie talentvolle spelers van 2001, Susan Fouché en Lourens Erasmus, as kinders deelgeneem het aan die Aardklop-produksie en nou as volwassenes prominente rolle vervul.

Hoewel dit ʼn gemeenskapsteaterproduksie is, word dit absoluut doelgerig aangepak om ʼn produk daar te plaas wat van die hoogste gehalte en uiters professioneel is.

Kom herleef die dramatiese gebeure van Luther en sy tydgenote tydens die Reformasie, 500 jaar gelede in ʼn kaleidoskoop van menslike emosie wat wissel van twyfel, verwarring, angs, smart, wanhoop, hoop, blydskap en vreugde!

Wanneer: 25, 26, 27, 28 Oktober 2017
Waar: Gereformeerde Kerk Centurion, Basdenlaan 226, Lyttelton, Pretoria
Tyd: 19:00 vir 19:30 – 22:00
Kaartjies beskikbaar by Tixsa
Besoek gerus die Facebookblad
Navrae: [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.