Gedagte vir die dag: Genade te midde van oordaad

kers_bybel_lig_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Here, nou kan u dienskneg in vrede sterf soos U my beloof het. (Lukas 2:29)

Kerstyd is spandeertyd. Dan loop al ons swaarverdiende geldjies soos stroop. Vreesloos bestorm mense die winkels asof dit die laaste keer is dat hulle dit ooit sal doen. Terwyl kasregisters oortyd werk op die maat van holruggeryde Kersfeesmusiek is mense in ’n kooplustige bui. Elke jaar gaan dit so. O ja, en elke jaar preek ’n paar leraars verwoed teen hierdie spandabelrige gees en teen ’n “wêreldse” Kersfees. Feit is, ons elkeen sal vir onsself moet besluit hoe ons hierdie dae vier, of nie. As navolgers van Jesus weet ons dit gaan oor sy koms na ons toe. Daarom moet ons lewens in hierdie dae, en ook gedurende die res van die jaar, gekenmerk word deur vrygewigheid en omgee. Jesus se roete van prysgawe en dien is ook ons s’n. Ons dien Hom op sy voorwaardes. Sy hart klop in ons binneste. Daarom loop ons op nuwe paaie, daardie wat Jesus ons Heer saam met ons bewandel.

Genade gebeur wanneer ons saam met die Goeie Herder hier in Kersfeestyd op sy spesiale genadepaaie wandel. Genade vertel immers in hierdie dae op spesifieke maniere dat God mense baie liefhet. Dit sê dat Hy nogmaals bereid is om oor en van voor af met ons almal te begin, maak nie saak hoeveel keer ons al verdwaal het in ons eie sondes nie. God is altyd eindeloos meer genadig met ons as wat ons ooit met onsself of met ander mense is. Hy is die Vader van alle genade wat ons met oop arms verwelkom terwyl ons verleë vir Hom askies probeer sê. Om dit te beleef, is om Kersfees voluit te vier. Dit is om in die oop arms van Jesus in te hardloop. Doen dit en vergeet van al daardie geld blaas-aksies.

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.