Gedagte vir die dag: Genade uit God se hand

hand-in-son-galleryhip-com

Argieffoto.

Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring. (Romeine 10:15b)

Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle, maar hoewel hulle die prediking gehoor het, het dit hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie. (Hebreërs 4:2)

Baie nie-Christene dink die evangelie-boodskap is net te eenvoudig om waar te wees. Die Jode voel dat ’n mens ’n klomp wette moet onderhou om jou verlossing te verdien. Die Moslems reken jy moet die vyf pilare van Islam gehoorsaam. Die Hindoes en Boeddhiste sê: probeer so hard jy kan om aan die sinloosheid van en jou verknogtheid aan die aardse dinge te ontkom. Afrika-godsdienste verklaar: moet net nie die voorvadergeeste omkrap nie.

In teenstelling met al hierdie godsdienste is Christenskap nie ’n selfhelpgeloof nie. Die Nuwe Testament beklemtoon deurgaans dat die kloof tussen mens en God nie uit ons eie verdienste oorbrug kan word nie. Nee, ons kan niks doen om ons verlossing te verdien nie, Jesus het dit reeds vir ons gedoen.

Dit is tipies menslik om te dink jy moet eers iets verdien voor dit vir jou gegee word – dit is immers hoe ons grootgeword het: “Wees soet en jy kry ’n lekker.” God se Woord vertel ’n ander verhaal. ’n Verhaal van genade onbeskryflik groot. Al wat nodig is, is om met jou mond te bely dat Jesus die Here is, en met jou hart te glo dat God Hom uit die dood opgewek het en só word jy gered. Moet ook nie verwag om God noodwendig in die een of ander dramatiese ervaring te ontmoet nie, of dat jy nou juis na ’n spesifieke plek moet gaan of met ’n beroemde geestelike leier moet gaan praat voordat jou lewe sal verander nie. Nee, al wat nodig is, is om kinderlik op God te vertrou.

Israel het die evangelie verwerp, nie omdat hulle dit nie gehoor of verstaan het nie, maar omdat hulle God se manier van vryspraak gee nie wou aanvaar nie. Dit is altyd God wat in genade na ons uitreik en dit sal ons steeds verras.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.