Gedagte vir die dag: Genade, vergifnis en kanse

Herder_skape_veld_stiltetyd.jpg

Argieffoto (Foto: Carbonchurch.com)

Jesus vra hom die derde keer: “Simon seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus… antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my skape wei.” (Johannes 21:17)

Ek kry sommer ’n knop in my keel wanneer ek hierdie pragtige skrifgedeelte lees. Dit spreek van genade, vergifnis en tweede kanse. Drie maal het Petrus vir Jesus verloën. Ek kan my nie eens die skuldgevoel indink waarmee Petrus moes rondloop nie. Tog het Jesus self, ná sy opstanding, na Petrus uitgereik. Drie maal herbevestig Hy Petrus se roeping.

Dink net, daardie oorweldigende vrede, dankbaarheid en vreugde waarmee Petrus se hart moes oorloop. Ná die uitstorting van die Heilige Gees was Petrus die eerste een om die evangelie te verkondig. Hy het die grootheid van God so intens en intiem ervaar dat hy nie anders kon as om hierdie Goeie Nuus met ander te deel nie. Sy boodskap van geloof het daardie dag 3 000 siele vir die koninkryk gewen.

Sy liefde en vergifnis het die laaste druppel twyfel by Petrus oor Jesus se plan vir sy lewe uitgewis. Meer nog, is die aangrypende wyse waarop Hy die opdrag van herderskap oorgee aan Petrus. Jesus, wat na Homself as die goeie herder verwys het (Johannes 10), gebruik dieselfde beeldspraak wanneer Hy Petrus as opvolger oor sy skape aanstel: “Laat my lammers wei. Pas my skape op.”

Hierin sien ons hoe Hy Petrus deur alles heen geslyp het. Jesus het hom geleer om ander te dien, met hulle ’n pad tot geestelike volwassenheid te stap, hulle in dié waarheid te onderrig en te beskerm, selfs al kos dit hom sy lewe. (Dit is dan ook wat dit Petrus gekos het.)

Petrus, seker beter as enige van die ander dissipels, het die krag van genade begryp. Jesus verwag van ons om sy voorbeeld te volg en ander op dieselfde manier genadig te wees.

Bron: Vertrou God, Dagstukkies + Joernaal vir Vroue deur Alta Strauss
Uitgegee deur Carpe Diem Media
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here Jesus dankie dat U vergiffenis ons vrymaak van skuld….net in Jesus Naam alleen..Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.