Gedagte vir die dag: Genade vir ‘n tollenaar

hout_kruis_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Jesus sê toe vir hom: “Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom, omdat ook hierdie man ‘n seun van Abraham is. Ek, die Seun van die Mens, het immers gekom om wat verlore is, te soek en te red.” (Lukas 19:9-10)

Tollenaars was in die Bybelse tyd gehate mense. Hulle het by die stadshekke gesit en tolgeld gevra van die mense wat by die stad ingekom het. Hierdie geld is dan aan die stadsowerhede oorbetaal. Tollenaars het soms meer geld gevra as wat hulle moes. So het hulle die mense ingedoen en baie ryk geword. Die Jode het gevoel Joodse tollenaars werk teen hulle eie mense.

Saggeus is die hooftollenaar in Jerigo en is ‘n baie ryk man. Hy weet Jesus is op pad en omdat hy kort is, hardloop hy vooruit om in ‘n vyeboom te klim om beter te kan sien. Toe Jesus by hom verbyloop, stop Hy en vra dat Saggeus afklim. Jesus sê toe vir hom dat Hy by hom wil tuisgaan. Natuurlik is die omstanders baie omgekrap met Jesus. Gelukkig steur Jesus Hom nie aan die mense nie. Hy weet Saggeus het sy hulp nodig. Saggeus was verlore. Die Fariseërs het destyds geglo die tollenaars het te veel geld geneem om vergifnis te kan ontvang.

Toe Jesus by sy huis aankom, sê Saggeus onmiddellik vir Jesus dat hy die helfte van sy besittings vir die armes gaan gee en die geld wat hy afgepers het, vierdubbel sal terugbetaal. Dit was sy skuldbelydenis aan die Here.

Die Here het gekom vir mense soos Saggeus wat onredbaar was volgens Joodse tradisie. Onmiddellik hoor hy die reddings-woorde. Jesus het gekom om mense te red wat verlore was soos hierdie man. Saggeus ervaar dadelik die redding van die Here. Hy word oorspoel met genade.

Jesus het gesoek en die verlore Saggeus gevind. Ken jy vir Jesus? Bely vandag sy Naam sodat jy ook sy vreugde kan smaak en sy kind kan wees.

Here, ek bely vandag u Naam. U is die God wat ‘n hart het vir verlorenes. Ek wil elke dag u kind wees. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Dis altyd vir my of ons terloops daaroor lees maar die impak is verreikend. Saggeus se bekering, boetedoening, behels die afstaan van besittings aan armes, afgesien van kompensasie aan diegene wat deur hom ingeloop is. Nie die kerk word bevoordeel nie. So ook die ryk jongman wat na Yeshua gekom het om te verneem wat hom te doen staan om die ewige lewe deelagtig te word. Verkoop alles wat jy het en gee dit aan die armes. Dit staan sentraal om diegene te help wat niks kan doen om dankie te sê nie.

Dan kry ons die megakerke met hul “blessings galore”. Waar die profete, pastore, predikante, pouse en pondpraters in “mansions” die volgende voorspoedpreek uitwerk, waar rondbeweeg word tussen gymnasium en woning in miljoen rand mobiliteit. Te midde van mense wat elke dag bakhand voor die rykes moet gaan staan, soos Lazarus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.