Gedagte vir die dag: Genade wat toeneem

kruis-Medium.jpg

Lees: Romeine 6:1-14

Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. (Romeine 6:1-2, 6)

In die eerste paar hoofstukke van sy brief aan die gemeente in Rome skets Paulus die toestand van die natuurlike mens. “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie,” skryf hy in Romeine 3:10-12. In die volgende twee hoofstukke vertel hy van God se genade wat alle skuld uit wis; hoe meer die sonde toeneem, hoe oorvloediger word die genade. Wat staan ons nou te doen, wil hy in ons kernvers weet, moet ons aan hou sondig omdat ons nie meer onder die wet staan nie? En dan antwoord hy sy eie vraag: “Nee, onder geen omstandighede nie!” Mense wat dood vir die sonde is, kan tog nie langer daarin bly voortleef nie. Van nou af behoort ons vir Gód te lewe. En wanneer jy dit begin doen, bewys jy daarmee jou dankbaarheid vir God se persoonlike genade in jou lewe.

Paulus weet presies waarvan hy hier praat. Voor sy bekering het hy Christene vervolg en vermoor. Tog kies God juis vir hóm om sy genade bekend te maak oor die hele destydse wêreld. Wat doen jy met God se genade vir jou?

Here God, dankie vir u genade vir my wat net toeneem. Wys my hoe ek voortaan elke oomblik vir U kan leef omdat ek dood vir die sonde is. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.