Gedagte vir die dag:  Genadetye

vrou_stiltetyd_gebed_genade.jpg

Foto: Crosswalk.com

Lees Jesaja 63:7-9

Ek sal die troue liefde van die Here verkondig … alles wat Hy gedoen het in sy genade, in sy groot liefde. (Jesaja 63:7)

Verkondigers van God se goedheid is welkom om hul boodskap oor te dra, veral as dit met die hoorders daarvan ook goed gaan. As hulle kan saampraat, kan “amen!” sê op alles wat die prediker of priester of profeet kwytraak.

Helaas, aan die einde van ’n veelbewoë jaar sal daar heelparty mense wees, gelowiges, wat iets sal sê soos: “Ek is ook maar bly hierdie jaar is agter die rug!” Daar is min wat entoesiasties en uit oortuiging (en nie uit gewoonte of bygelowigheid nie) hard sal hande klap en “halleluja!” uitroep wanneer ’n prediker of priester of profeet op hierdie dag begin praat oor die Here se roemryke dade die afgelope jaar. Daar is te veel van ons met ’n moeë lyf en ’n verslae gees.

Ja-nee, hierdie jaar het sy tol dubbel en dwars geëis. En die nuwe jaar beloof nie veel beter nie …

Al sukkel ons dus om té opgewonde te raak wanneer breedsprakige predikers en priesters en profete hierdie tyd van die jaar hul hande jubelend in die lug steek, kan ons gerus selfs nog ’n bietjie stiller word. Vir ’n oomblik ons rug draai op die feitlik aaneen- lopende gedruis ná Kersdag en voor Nuwejaarsdag.

Skakel gerus ook maar die bruisende predikasies af; daar is ’n tyd vir alles …

Soek dan in jou gedagtes na die genadetydjies van die afgelope jaar: die kere toe goeie dinge jou genadig te beurt geval het en die kere toe slegte dinge jou genadig gespaar is. En moet nie verbaas wees as daar af en toe ’n klein “halleluja!” uit jou mond ontsnap nie.

Die jaar was so lank en u genade was so groot, Here … Halleluja!

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos

Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.