Gedagte vir die dag: Geniet

Groep_vreugde_blydskap_cotrugli-org.jpg

Foto: cotrugli.org

Ek het vreugde aanbeveel: daar is niks beter vir die mens in hierdie wêreld nie as dat hy eet en drink en vrolik is onder al sy geswoeg tydens die lewe wat God hom in hierdie wêreld gee. (Prediker 8:15)

Om die vrug van jou arbeid te waardeer en te geniet – al is dit klein en gering en in die oë van ander dalk belaglik, is ’n gawe. My pa kon ’n sny droë brood met ’n glas melk afsluk en jou vertel dat dit die heerlikste maaltyd is wat hy nog geniet het. Ons goeie vriend Michal het die meeste restauranthouers in Johannesburg by die naam geken. Hy was ’n fynproewer van wyn en kos wat ons dikwels saamgenooi het wanneer hy en Christine ’n nuwe eetplek ontdek het, maar nes my pa met min tevrede kon wees. Aan die einde van sy lewe, toe hy as gevolg van pankreaskanker nie meer ’n happie brood of ’n slukkie tee kon inhou nie, het hy sy versorger aangesê om die beste wyn in sy kelder te gaan uithaal en vir sy besoekers te skink sodat hy kon kyk hoe hulle dit geniet. Ons wou nie, maar hy het by ons aangedring omdat hy op dié manier die wyn nog saam kon ruik en op ’n manier ook proe.

Jy het nie oorvloed nodig om die lewe te geniet nie. ’n Uurtjie saam met jou gesin om die etenstafel of voor die televisie met jul gunsteling-program is meer werd as ’n eksotiese banket in ’n duur restaurant en sooibrand wat jy nie kan bekostig nie. Moenie dat jou werk jou lewe so oorneem dat daar nie tyd oor is vir ’n telefoongesprek met een van jou kinders nie. ’n Nuwe huis in ’n beter buurt bring jou minder plesier in die sak as ’n tweedehandse woonwa en goedkoper vakansies by die see. Moenie werk vir eendag nie, geniet wat jy nou het.

Hemelvader, dankie vir die lewe wat U vir ons gee.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fritz Rossouw ·

Baie mooi en waar woorde.
Ongelukkig woon ‘n arm dame met daaglike vrees, om die enigste dak oor haar kop te verloor. Die rede omdat geen lewende mens, of hul instansies werklik vir hulle medemens omgee nie.
Sulke skeinheiliges praat en oordeel vinnig en Sondae sit hulle met hul froom gesigte in die kerk banke.

Corné ·

Baie dankie vir die stukkie wysheid. Ons is so geneig om altyd beter dinge te wil hê en so kyk jy verby die klein goedjies wat regtig saak maak. Mag ons vandag genot vind in ons lewe al het ons baie min.

Theuns ·

Al wat ek vra Jesus is die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Amen!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.