Gedagte vir die dag: Gepars tot wyn

wynplaas_druiwe_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk … (Kolossense 1:24)

Ons neem ons geestelike toewyding en probeer om dit in ’n roeping van God te verander, maar wanneer ons in die regte verhouding met Hom te staan kom, vee Hy dit alles eenkant toe. Dan gee Hy vir ons ’n geweldige, verblindende pyn om ons aandag gevestig te kry op iets wat ons nooit gedroom het sy roeping vir ons kan wees nie. En vir een verblindende helder oomblik sien ons sy doel en ons sê: “Hier is ek! Stuur my.”

Hierdie roeping het niks te doen met persoonlike heiligmaking nie, maar om gebreekte brood en uitgestorte wyn gemaak te word. Maar God kan nooit van ons wyn maak as ons beswaar maak teen die vingers wat Hy kies om ons te pars nie. Ons sê: “As God maar net sy eie vingers sal gebruik om op ’n spesiale wyse van my gebreekte brood en uitgestorte wyn te maak, sal ek geen beswaar hê nie!” Maar wanneer Hy ons pars deur iemand te gebruik van wie ons nie hou nie, of ’n reeks omstandighede beskik waaraan ons onsself nooit sou onderwerp nie, maak ons beswaar. Tog moet ons nooit probeer om self die plek van ons martelaarskap te kies nie. As ons ooit in wyn verander wil word, sal ons gepars moet word, ’n mens kan nie druiwe drink nie. Druiwe word slegs wyn wanneer dit gepars word.

Ek wonder watter vinger en duim het God gebruik om jou te pars? Was jy so hard soos ’n albaster dat jy tussen die vingers uitgeglip het? As jy nog nie ryp was nie, maar God jou nogtans gedruk het, sal die wyn wat geproduseer is, besonder bitter wees. Om ’n heilige persoon te wees beteken dat my natuurlike lewe die werklike teenwoordigheid van God sal weerspieël. Ons moet in God self geplaas word en in volkome eenstemmigheid met Hom wees, voordat ons in sy hande gebreekte brood kan word. Bly in die regte verhouding met God en laat Hom toe om te doen wat Hy wil en jy sal vind dat Hy die soort brood en wyn produseer wat tot voordeel van sy ander kinders sal strek.

Bron: My allerbeste vir Sy Hoogste deur Oswald Chamber
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Dankie Here dat U nooit laat staan die werk van U hande nie…….dank lof en eer kom U alleen toe..Amen