Gedagte vir die dag: Gered deur die Lam

prys-God-Stiltetyd-Pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Kyk, dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. (Johannes 1:29)

Die evangelie kom neer op een belangrike daad: Die Lam van God het gesterf om die sondes van die wêreld weg te neem.

Jesus het aarde toe gekom en soos een van ons geleef. Hy is deur mensehande vervolg, gemartel en aan ’n kruis gehang. Hy het gely en gesterf om ons te red en vir ons die ewige lewe te gee. Is dit nie ongelooflik nie? Die Seun van God het gesterf om my en jou te red!

Ons kan nie onsself red of heilig maak nie, en ons kan nie die wêreld loskoop nie – dit is die soewereine werk van God. Verlossing is ons hemelse Vader se groot werk. Daarom moet ons fokus op dít wat God vir ons gedoen het en nie op ons aardse ervarings nie. Ons gedrag moet afhang van dít wat Jesus vir ons gedoen het en wat Hy aanhou doen in ons lewe. Ons hele Christelike reis word gebaseer op sy soenoffer en daarom behoort ons daarna te streef om in elke aspek van ons lewe volkome gehoorsaam te wees aan God. Ons daaglikse lewe behoort slegs te fokus op wat Christus vir ons beteken en wat Hy vir ons gedoen het.

Ons wandel met Jesus ontwikkel vanuit ’n verhouding van gehoorsaamheid. Sodra ons ons verbind tot geloof in God en gehoorsaamheid aan sy weë, sal ons volkome vergewe en vry wees. As ons egter van God af wegdraai, al is dit net vir ’n oomblik, sal die sonde weer begin insypel. Ons verhouding met Jesus is nie gebaseer op filosofie of redenasie nie, maar op eenvoudige gehoorsaamheid en die geloof dat die Here Jesus Christus ons Verlosser is.

Die enigste hoop wat enige van ons kan hê, is om bloot wedergebore te word. Dis waarom Jesus gesê het: “As iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Johan nes 3:3). Ons moet derhalwe versigtig wees om alwys en arrogant te raak. Ons moenie dink dat ons slim of beter as ander is nie, want dis slegs deur God se genade dat ons vandag hier is.

Vader, ek kom in gebed en met danksegging voor U, en ek dink weer aan Jesus se kruisoffer vir my. Help my om nederig altyd gehoorsaam aan U te bly en my lewe op u Woord te grond. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.