Gedagte vir die dag: Gered uit genade

God-se-lig

Argieffoto.

Lees: Efesiërs 2:1-10

Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trotste wees nie. (Efesiërs 2:8-9)

In Efesiërs 2 teken Paulus ’n ontstellende prentjie van hoe ons gelyk het voordat God sy genade op ons uitgestort het: Ons was dood as gevolg van die sonde in ons lewens; ons het ons deur die duiwel laat lei; ons is oorheers deur ons sondige begeertes. Die Boodskap stel dit glashelder: “Eers het ons almal agter die sonde aangeloop. Wat ons gedink of gedoen het, was die ene sonde. En vir iemand wat so is, wag daar net een ding: die ewige straf van God. Maar God het sake, en veral ons, nie so gelos nie. Hy het ons baie lief en Hy loop oor van goedheid. Toe ons nog in die sonde geleef het asof God nie eens bestaan nie, het God ons kom haal. Saam met Christus het Hy vir ons ’n nuwe lewe gegee. Ons kon weer voor begin” (Efesiërs 2:3-4).

God se genade maak ook vir jou ’n nuwe begin moontlik, al was jy nog altyd ’n groot sondaar. “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom,” beloof Paulus in 2 Korintiërs 5:17. God wil vandag vir jou sy genade kom aanbied en van jou ’n nuwe mens maak. Jou sonde lê nou agter jou omdat God dit vergewe het; jy is skoongewas deur Jesus se bloed wat vir jou aan die kruis gevloei het, mits jy gewillig is om God se genade-aanbod te aanvaar.

Vader, ek kan U nooit genoeg loof dat U my deur genade uit die sondemoeras kom red het nie. Help my asseblief om in die vervolg soos ’n nuwe mens te leef. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.