Gedagte vir die dag: Gered!

aanbid_stiltetyd_pixabay.jpg

Argieffoto (Foto: Pixabay)

So sal dit dan wees: elkeen wat die Naam van  die Here aanroep, sal gered word. (Handelinge 2:21)

Vanaf die dag dat Dawid gesalf is as koning het die Gees van die Here kragtig in hom gewerk. En vanaf die dag dat die gelowiges met die Gees gesalf is met tonge vuur het die koninkryk van God – waarvan Dawid ’n voorloper was – in ’n hoofbaan begin beweeg. God was op pad met sy hele wêreld.

In sy toespraak op Pinksterdag staan Petrus op en “onder leiding van die Heilige Gees” skets hy die plan van God vir almal. En die boodskap is: “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.”

Deur die eeue het mense al ekstra “kwalifikasies” vir Christenskap bygevoeg, of weggeneem. Die pous het in die sestiende eeu aflaat-briewe verkoop om siele sogenaamd op pad na die hemel te help. In die agtiende eeu van verligting (Aufklärung) is, soos tans in sommige kringe, gereken “redding” is nie nodig nie en Christus is bloot ’n profeet.

Daar is mense wat dink ’n Christen wat “gered” word, is een wat goeie dade doen, of elke gebod hou, of aangename allemansvriend is. Hiervan word niks deur Petrus genoem nie. Hy sê Jesus is die Here en elkeen wat Hom (in opregtheid) aanroep, sal gered word, of God S’n wees.

Dus: ’n Christen is iemand wat gedurig na Iemand roep. ’n Christen is iemand wat op pad is, en wat iets in sy hart het van wat die koers is (wat elke dag deur die Een wat aangeroep word, bepaal word). ’n Christen is onrustig buite hierdie Teenwoordigheid, ken ’n Naam en vra gedurig sy koers. Hy weet dit sal uitloop op ’n van aangesig-tot-aangesig-ontmoeting met sy Reisgenoot op ’n dag, of liewer in ’n ewigheidsmoment. Want Christene het ’n bestemming, hoewel hulle dié begrip nie juis begryp nie. Dis belangrik om te onthou Christene is nie noodwendig “beter” as ander nie. Hulle is bloot beter ingelig, en ken ’n Naam; ’n Naam wat hulle in liefde, nood en aanbidding gebruik.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.