Gedagte vir die dag: Geroep om vry te wees

Stiltetyd_see_vrolike mense_Juanita Badenhorst.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Julle is geroep om in vryheid te leef. Moet net nie die vryheid misbruik om sondige begeertes te bevredig nie, maar gebruik dit om mekaar met liefde te dien. (Galasiërs 5:13)

Moenie jou vryheid vir enigiets of enigiemand verruil nie, want dit het heeltemal te veel gekos. Jesus het vir my en jou vryheid aan die kruis by Golgota betaal.

Moenie jou erfporsie vir ’n tydelike bakkie sop inruil soos Esau gedoen het toe hy sy nalatenskap aan sy broer Jakob afgestaan het nie. Ja, hy het vir ’n oomblik se vleeslike genot alles verloor. Wanneer ons met sonde speel – daardie immorele verhouding, daardie wit leuentjie, daardie effense buig van die reëls, diefstal – verbeur ons ons vryheid.

As die duiwel eers sy voet in die deur het, gaan hy nie daar stop nie. Daardie sogenaamde onskuldige verhouding met jou kollega kan byvoorbeeld in egbreuk ontaard. Daardie wit leuentjie wat jy vertel het, sal opgevolg moet word met ’n groter leuen om die eerste leuen toe te smeer, maar jy sal wel uiteindelik uitgevang word. Wanneer jy die reëls begin oortree, waar stop jy? Jy kry die idee …

Jesus het gesê: “As die Seun julle bevry, sal julle regtig vry wees” (Johannes 8:36). As jy gemoedsrus, vreugde en vrede wil hê, vlug weg van sonde en moenie met die vyand onderhandel nie. Moenie met oënskynlik onskuldige versoekings speel nie.

As jy in die duiwel se strik vasgevang is terwyl jy nou hierdie dagstuk lees en dit voel vir jou asof jy nie kan uitkom nie, skep moed – daar is wel ’n uitweg. Hou op om te doen wat jy doen, bely jou sonde teenoor God en beweeg dan in oorwinning in (1 Johannes 1:9). Jy kan dalk sê: “Ek kan nie; ek is al te diep in die sonde,” maar God sê jy móét, anders kan Hy jou nie help nie. Onthou, jou sonde sal wel op die lappe kom.

Niks op hierdie aarde is genoeg werd dat jy jou Godgegewe vryheid daarvoor prysgee nie. Absoluut niks nie.

Dierbare Here, ek weet ek het hulp nodig om my sondes te oorkom. Help my asseblief om hierdie gedrag stop te sit sodat ek in Jesus se vryheid kan wandel. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Moeg... ·

Vir 10 jaar is ek vasgevang in ‘n liefdelose huwelik met ‘n man wat my nie waardeer nie, wat my vloek, wat my skel, wat selfs lag en my uittart oor my Pa wat verlede jaar oorlede is, daar’s geen liefde teenoor mekaar nie en ek het begin van die jaar besluit om van hom te skei. Intussen het ek wel iemand ontmoet wat my op my hande dra, waar daar wedersydse respek is en by wie ek weet my naam is veilig in sy mond en sal nie lelik geuiter word nie… So van wie moet ek dan nou eintlik vry wees – die goeie ordentlike man wat my my spasie gee en my respekteer of die monster waarmee ek nog getroud is op papier?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.