Gedagte vir die dag: Geroep tot diens

sonsopkoms-man-wat-bid

Foto: http://living365withjesus.wordpress.com/

Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. (Ef 1:18-19)

Lees Efesiërs 1:18-23

Hoe beter jy God leer ken en hoe meer wysheid Hy vir jou gee om die gawes te ontdek en te gebruik wat Hy aan jou persoonlik skenk, hoe meer besef jy dat jy daardie geskenke in God se koninkryk behoort te gebruik. Dat Hy jou geroep het tot diens in sy koninkryk. “As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien,” skryf Petrus (1 Pet. 4:10). Indien jy gewillig is om dit te doen, sal God se krag tot jou beskikking wees om hierdie gawes in werking te stel. Paulus verduidelik aan die Efesiërs van watter krag hy praat: Dis die opstandingskrag waarmee God Jesus uit die dood opgewek het! Hierdie krag maak van jou ’n oorwinnaar, méér as ’n oorwin naar.

Jy sal ook eerstehands ontdek hoe God die gawes waarmee jy gebore is, sal seën en vermeerder sodat jy vir baie ánder mense tot seën sal wees.

Jy hoef nie in jou eie krag groot dinge in God se koninkryk te vermag nie. Jy kan maar net op God se krag vertrou en dit vir jou toe-eien. Jy weet mos reeds dat jy tot álles in staat is deur Hom wat jou krag gee (Fil. 4:13).

Hemelse Vader, dis ’n voorreg dat U my tot diens in u koninkryk oproep. Ek wil my gawes gebruik om u koninkryk uit te brei en van nou af alles in u krag aanpak. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.