
Foto: pixabay.com
Lees Psalm 27
Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem. (Psalm 27:10)
Hierdie geliefde psalm volg ’n bekende patroon, een wat by baie psalms voorkom. Eers is daar ’n sterk, uitgebreide geloofsbelydenis: “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees?” (v. 1). In Psalm 23, byvoorbeeld, lui vers 1: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.”
Ná etlike dergelike versekerings spreek die psalmskrywer nou die Here aan: “Luister tog na my, Here, as ek roep; wees my genadig …” (v. 7). In Psalm 23 gebeur dit in hierdie woorde: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my” (v. 4).
Uiteindelik word Psalm 27 afgesluit met ’n dankbare uitroep: “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed!” (v. 14). Psalm 23 eindig só: “… ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae” (v. 6).
Dit is die patroon: gerusstellend geyk, bekend, die ene vrede. Met hierdie goue draad wat dwarsdeur loop: God is groot; God is goed. Die misdadige teenstanders het nie ’n kans nie. Diegene wat in die Here se huis tuis is, beleef sy goedheid dáár. Dit is hul skuilplek. Hiervandaan kyk hulle, veilig, seëvierend, op die boosdoeners neer. Gelowiges het deur die eeue in hierdie en soortgelyke psalms ’n klankbord vir hul eie belewenisse gevind, en woorde vir hul diepste gedagtes. ’n Troos te midde van hul vrese, ’n herinnering aan hul vaste Rots. Uiteindelik is dit ’n oproep om op Hom te vertrou wat nog altyd die vanselfsprekende toevlugsoord gebied het vir verwilderde, verskrikte kinders. Hulle wat weet dat hul Here nooit met hande gevou toekyk hoe hulle verrinneweer word nie.
Ek rus in u arms, my ewige Lig, my Redder.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
6 Kommentare
Dankie Here ek rus in U vrede.
Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie Here vir al U genade en seëninge. Amen !
Dankie vir hierdie boodskap. Het nie geweet Maroela doen sulke boodskappe nie. My pappie gaan vandag vir n totale hart omlyning en die boodskap is net vir my gestuur. Dankie
Lizette,
Glo en vertrou alles sal goed gaan met jou pappie. Bid vir hom en vertrou. Ons dien ‘n Waarmaker van SY Woord. Ek bid saam met jou.
Liewe MM, baie baie dankie vir die pragtige boodskap weer vandag! Seën vir julle ook!
Groot groete, Bertie