Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land, weg van jou familie en jou ouerhuis en gaan na die land wat Ek jou sal aanwys. Ek sal jou die voorvader maak van ’n groot nasie. Ek sal jou seën sodat jy geëerd sal wees, en vir ander tot ’n seën sal wees.” (Genesis 12:1, 2)
Op die oog af klink Abram se verlies glad nie so groot nie. Al wat hy skynbaar moes prysgee, was sy “land, sy mense en sy familie”. Vir die Oosterling was sy land en familie en eie mense die hoogste prioriteite waaraan hy kon dink. Dit het sy lewensankers verteenwoordig. Dit was die rede vir sy bestaansreg. Om dit prys te gee, was soos om ’n stuk van jou lewe prys te gee.
Abram gehoorsaam die Here se opdrag sonder om teë te praat. Die Bybel is taamlik ekonomies met woorde. Wat ons hoor, is egter genoeg. Gehoorsaamheid aan God se stem was die vertrekpunt van Abram se verhouding met God.
En dan die wins van verlies. God maak ’n belofte. Hy belowe om vir Abram te seën en om hom tot seën te maak vir die wêreld. Verder in die verhaal ontdek ons wat die seën van gehoorsaamheid is. Abram was inderdaad ’n geseënde man wat sy hele lewe in diens van God gestel het om sodoende vir die wêreld tot seën te wees.
AMEN..!!!